Deur vertikaal uit te brei en risiko’s suksesvol te versprei, kon die 39-jarige mnr. Dewald Dempers sy boerdery die afgelope vier jaar groter sekerheid in ’n wisselvallige gewasmark bied.
Sy vennootskap in ’n lugbespuitings-onderneming beteken ’n aansienlik hoër boerderywins sedert 2018 as die potensiële inkomste uit kontantgewasse op besproeiingsgrond met dieselfde beleggingswaarde as sy vliegtuie.
Dempers is die Noord-Kaap se aanspraakmaker op die kroon van Toyota en Agri SA se Jongboer van die Jaar vir 2022. Hy het die afgelope 12 jaar danksy sy perfeksionistiese geaardheid ’n vyfster-boerdery opgebou met mielies en gars as die belangrikste wisselbougewasse onder besproeiing.