Louw, wat op ’n simposium van die kunsmisvereniging van Suider-Afrika (Fertasa) oor hoë kunsmispryse en die aanwending daarvan in die saaibedryf gepraat het, het gesê die klem sal moet verskuif na optimale winsgewendheid pleks van hoër opbrengste.
Hy het gesê die produksiekoste van mielies teen ’n hoër opbrengs het sedert die vorige seisoen tot in Julie vanjaar met 45% gestyg, terwyl die prys van mielies gemiddeld met net 20% gestyg het. Vir mielies met ’n gemiddelde opbrengs was die produksiekoste 39% hoër omdat minder kunsmis gebruik is.
“Produsente en landboukundiges moet almal verstaan en dieselfde taal praat. Daar is ’n groot verskil tussen die grootste opbrengs en die winsgewendste oes. Dit is belangrik vir volhoubaarheid.”