Suid-Afrikaanse boere is omtrent moedeloos met insetkoste wat net bly styg. In ’n onlangse werksessie deur Graan SA is bevind dat vanjaar se algemene produksievlak vir gelykspeel vir mielies rondom 6,9 t/ha beloop, sê mnr. Corne Louw, senior ekonoom van Graan SA.
“Ons sien ’n perfekte storm van omstandighede wat tot die stygings lei. Eers het die prys van ureum skerp met 20% gedaal, maar die voortdurende spanning tussen Rusland en Oekraïne het die prys weer skerp laat styg, terwyl die prys van fosfaat en kalium geen teken van ’n daling toon nie.”
Boonop wys berekeninge deur Graan SA se ekonome dat die prys van kunsmis vir mielies op ’n jaargrondslag met sowat 144% gestyg het. “As jy dus op hierdie oomblik moes besluit of mielies aangeplant moes word, sou die besluit eenvoudig teen mielieproduksie wees,” sê Louw.