
Dr. Izané Crous het in die navorsing wat sy vir haar doktorsgraad in landboukunde deur die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit landbouwetenskappe gedoen het, bevind die meeste graanboere in die Wes-Kaap kan minder stikstof by kanola toedien sonder om opbrengs in te boet.
Crous, wat lank ’n adviseur vir kanolaboere was, sê ’n kleiner stikstofbehoefte is ’n gunstige gevolg van die beginsels van bewaringsboerdery wat boere al vir 20 tot 40 jaar lank toepas.As gevolg daarvan is hul grond “gesonder”, van nature meer stikstofryk en huisves dit meer “goeie” mikrobes.
Een van haar studieleiers, dr. Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê deur die langtermyntoepassing van die basiese beginsels van bewaringslandbou is die organiese koolstofinhoud van die grond en mikrobiese aktiwiteit daarin verhoog.
“Die gevolg is dat anorganiese stikstof in die grond vrygestel word. Daarom het die plante deesdae minder kunsmis-toegediende stikstof nodig om ’n sekere opbrengs te lewer.”
Crous se navorsing is die eerste keer dat die stikstofbehoeftes van kanola spesifiek tot Suid-Afrika ondersoek word. Plaaslike boere gebruik tans riglyne wat uit die plaaslike koringbedryf of van Australiese kanolaprodusente kom. Daarvolgens is 40 kg stikstof nodig om 1 ton kanolasaad te lewer. “Australiese grond en klimaat verskil egter van ons s’n,” sê Crous.
Sy het van 2016 tot 2019 by Darling, Porterville, Riversdal, Moorreesburg en Riviersonderend proewe gedoen en nou met die boere daar saamgewerk. Sy beskou hulle as haar belangrikste mentors.
WENKE
Stikstof is een van die belangrikste voedingstowwe wat nodig is om ‘n goeie opbrengs te verseker. Dit kan nogal duur wees, en te veel daarvan is nie goed vir ’n plant of die omgewing nie.
By kanola kan dit plantgroei en die lewering van saad en olie belemmer. Crous se navorsing toon dat te veel stikstof in die grond ook nie noodwendig groter opbrengste beteken nie, maar eerder die omgewing skade kan aandoen én produsente se winste benadeel.
Daarom moet mooi besluit word oor hoeveel stikstof toegedien word, en ook watter bron van stikstof – hetsy een wat nitraat, ammonium, ureum met of sonder ’n urease-inhibeerder bevat – gebruik word.
’n Gebied se klimaat en grondtoestand moet ook in ag geneem word. “Dis veral belangrik om nie te veel stikstof toe te dien in droë jare nie.”
Crous is deesdae ’n garskenner by AB InBev op hul navorsingsplaas by Caledon.Haar navorsing is uitgevoer onder leiding van Labuschagne en dr. Pieter Swanepoel van die departement landboukunde aan die US.
Haar veldnavorsing is gefinansier deur die Sasol Landboutrust en die Wes-Kaapse departement van landbou, en deur studiebeurse van die Proteïennavorsingstigting en Southern Oil Bpk (Soill).