
Die huidige skatting is dat die volgende oes so groot as 20 000 ton kan wees, 5 000 ton meer as die huidige produksieseisoen.
Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die nuwe bestuur van die pluismeul op Marble Hall, wat voorheen as Loskop Katoen bekend gestaan het. Mnr. Louis Olivier van Vaalharts Katoen op Hartswater het in 2021 die bestuur van die Loskop-pluismeul oorgeneem. Die pluismeul was intussen bekend as Vaalharts-Loskop Katoen en is verlede maand amptelik na Limpopo Valley Cotton hernoem.
Olivier het tydens ’n bekendstelling van die nuwe maatskappy gesê die afgelope jaar was moeilik, met baie struikelblokke. Hoewel alles nog nie heeltemal gereed is nie, is baie reeds vermag.
Hy het gesê baie werk is gedoen om die vertroue onder produsente te verbeter deur ’n deursigtige bestuurstyl met oop kommunikasie tussen die pluismeul, die produsente en al die belanghebbendes in die katoenbedryf te vestig.
Samewerking
Limpopo Valley Cotton tree as kontrak-pluismeul vir Vaalharts Katoen op. Die samewerkingsooreenkoms tussen die direkteure van die twee pluismeulens het die voordeel van groter volumes. Hoe meer katoen daar is, hoe beter is die prys wat beding kan word. Die samewerking van die twee pluismeulens bring ook ’n kostevoordeel wat finansiering betref en bied groter sekuriteit aan die produsente, het Olivier gesê.
Die prys van katoen is tans op ’n historiese hoogtepunt en dit sal na verwagting oor die volgende twee jaar hoog bly.
Deurlopende bedryfsbetrokkenheid en inisiatiewe vir bewusmaking deur Katoen SA het die vraag na plaaslike katoen deur plaaslike kleinhandel gestimuleer, wat nou streef na doelwitte van 65% plaaslike katoen teen 2030 op hul rakke. Toegang tot volumes bly ongelukkig 'n probleem.
Volgens mnr. Wilber Rudman, ’n kantoenlintbemarker, is daar wêreldwyd ’n tekort aan katoen. Ongeveer 50% van die plaaslike katoen word reeds bemark nog voordat die boere begin oes.