Toe sy boerdery op hul familieplaas London, naby Dwaalboom, in 1994 noustrop begin trek het weens aanhoudende mislukte mielie- en sonneblomsaadoeste, het mnr. Sedwee Pienaar finaal besluit dat hierdie nie mielie- en sonneblomsaadwêreld is nie. Daarvoor is die reënval in die streek te onvoorspelbaar.
Hy het besef dat katoen die gewas vir sy omgewing is en dit het gewerk. Sy katoenboerdery het hom van ondergang gered en gee sedertdien baie groter bestendigheid en sekuriteit aan sy boerdery. Daardie rampspoedige jaar het hy net 150 ton sonneblomsaad van 700 ha geoes. Daar was geen mielie-oes nie.
Mnr. Pienaar en sy seun, Pieter, wat saam met hom boer, het vanjaar egter voor die hoë mielie- en sonneblomsaadpryse geswig en die helfte minder katoen as verlede jaar geplant. Ondanks die feit dat hulle tussen Oktober en middel-Desember verlede jaar 487 mm reën ontvang het, het hulle nou net 'n gemiddelde sonneblomsaadoes en 'n mislukte mielie-oes. Dit is te wyte aan besonder hoë temperature en geen opvolgreën vanaf middel Desember tot middel Februarie nie. Die mielies het eenvoudig begin omval en gevrek. Hulle sal hulself gelukkig ag as hulle vanjaar gemiddeld 500 kg mielies per hektaar oes. Die sonneblomsaadlande, geleë 38 km wes van London, het in Februarie gelukkig meer opvolgreën as London gehad en lewer 'n gemiddelde opbrengs van 900 kg/ha.
Om hierdie droogte en hoë hitte in Januarie vry te spring, plant sommige boere nog tot einde Januarie mielies en sonneblomme in diestreek. Hulle loop egter die gevaar van rypskade in die vroeë winter.
Sonneblomplante is taaier as mielieplante en kan ook die vog dieper in die grond gaan haal, maar 'n gemiddelde opbrengs van 900 kg/ha is alleenlik die moeite werd as produsentepryse op die huidige hoë vlakke bly.
Hierteenoor gee katoen baie groter bestendigheid aan die boerdery. Dit is 'n geharde plant wat beter bestand is teen droogte en hitte as mielies en sonneblomsaad. Dit gee elke jaar 'n oes, ondanks hitte en droogte. Die katoenplant het 'n lang groeiseisoen en vorm vrugknoppe reeds vanaf 10 weke ná opkoms. Die plant het die vermoë om tydens droë tydperke te oorleef en met opvolgreën weer vrugknoppe te vorm. Dit is dus 'n gewas met 'n baie lae risiko en inderdaad die gewas met die heel laagste risiko in sy omgewing.
Volgens mnr. Pienaar is dit nie baie moeilik om katoen te verbou nie. Die bewerking voor planttyd is feitlik dieselfde as dievir mielies en sonneblomsaad. Daar is egter sekere bestuursaspekte wat belangrik is.
Die saad word voor planttyd met 'n sistemiese gif behandel wat verseker dat plae, soos snywurms en blaaspootjie, dit nie pas na opkoms vernietig nie. Diebeskerming duur tot ses weke. Daarna word dit die eerste drie keer met "sagte" middels bespuit teen bolwurms, sodat hul natuurlike vyande nie ook vernietig word nie. Die daaropvolgende bespuitings is met gevaarliker middels, maar slegs as rooibolwurm en vlekbesieplae voorkom.
Hulle plant die kultivars Delta Opal en NuOpal. Laasgenoemde is 'n kultivar met 'n ingeteelde geen wat dit bestand teen bolwurms maak, gevolglik word diekultivar net twee keer bespuit. Onkruidbestryding begin net ná opkoms en duur voort totdat bolvorming voltooi is. Mnr. Pienaar sê die belangrikheid van onkruidbestryding kan nie oorbeklemtoon word nie, soos van toepassing by alle landbougewasse. "Roundup Ready" katoensaad is nou beskikbaar wat die bestryding van onkruid vergemaklik.
'n Belangrike voordeel van katoen is dat dit 'n meerjarige plant is wat kan oorstaan. Die Pienaars laat sowat 'n derde van die katoenlande elke jaar oorstaan. Dit is 'n praktyk wat verseker dat daar 'n oes vir die volgende seisoen is indien dit nie voor die einde van November reën vir nuwe aanplantings nie. Hulle laat egter geen land langer as twee seisoene oorstaan nie.
Die korrekte bemesting is ook belangrik vir katoen, veral vir behoorlike bolvorming. Hulle laat gevolglik vooraf grondontledings doen om die presiese bemestingstatus van die grond te bepaal, sodat misstof korrek toegedien kan word, indien nodig.
Om kostes te bespaar, oes die Pienaars meganies en ontblaar nie noodwendig vooraf nie. Hulle spaar verder op plukkoste deur self hul plukkerkoppe te diens en te herstel.
Hulle oes vanjaar gemiddeld 1,1 t/ha (effens laer as hul langtermyngemiddeld van 1,2 t/ha) te midde van die swak opvolgreën en warm weer. Katoen sal vanjaar weer mielies en sonneblomsaad klop wanneer dit by winsmarges kom.
Mnr. Pienaar sê 'n ander baie groot voordeel van katoenproduksie is die feit dat al die tegniese hulp wat 'n boer nodig het om katoen te verbou, net 'n telefoonoproep ver is. Die voorligters van die pluismeulens is tot die boer se beskikking sonder enige koste en die katoenoes word verder sonder koste vir die boer op sy plaas gelaai deur die pluismeulenaar. Voorts kry die boer ook die tjek vir sy oes op die dag wat sy katoen by die pluismeule afgelaai word.
Katoen kan selfs meer geld in die boer se sak plaas as hy waarde tot sy oes toevoeg deur byvoorbeeld sy katoen onder kontrak te laat pluis en self die veselkatoen teen die beste prys te verhandel. Op diewyse kan hy tot 40 c/kg of R400/ton meer in sy sak steek, maar dit plaas wel 'n groter risiko op die produsent omdat hy dan self sy katoen moet bemark.
Vir mnr. Pienaar gee die bestendigheid van sy katoenboerdery hom die afgelope paar jaar gemoedsrus in hierdie onvoorspelbare klimaatsomstandighede. Die risiko is laag, die mark is goed en die produsenteprys het begin styg.
30 Augustus 2002