
Ondanks ’n sterk vraag na katoen op die wêreldmark en gevolglik goeie pryse het Suid-Afrikaanse produsente nie juis meer katoen as verlede jaar geplant nie. Boonop het baie produsente versuip- of haelskade gely.
In Noordwes het swaar reën amper die helfte van die oes vernietig, terwyl ander streke soos die Noord-Kaap onder hael deurgeloop het. In Limpopo en Mpumalanga se produksiegebiede is dit sedert Januarie baie droog, wat boere daar se opbrengs affekteer.
“Ons hoop nou dat daar nie verdere skade kom nie en dat laat reën sal help om opbrengste te verbeter,” sê mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, in sy onlangse nuusbrief.
Volgens die derde oesskatting sal die katoen-oes vanjaar omtrent 13% kleiner wees as die vorige seisoen. Die huidige oes word geskat op 68 000 bale lint uit aanplantings van omtrent 14 000 ha.
Die verwagte gemiddelde opbrengs vir katoen onder besproeiing is vanjaar 4 140 kg saadkatoen per hektaar vergeleke met verlede jaar se opbrengs van 4 515 kg per hektaar. Op droëlandproduksie word ’n opbrengs van 1 500 kg per hektaar verwag teenoor verlede jaar se 1 468 kg per hektaar.
Plaaslik is die vraag na katoen aan die styg namate die kleinhandelsmark streef om die meesterplan-doelwit van 65% plaaslike vesel-aankope teen 2030 te bereik.
Daar is baie gedoen om goeie verhoudinge met die land se kleinhandelaars te bou en hulle is daartoe verbind om plaaslike katoen aan te koop. Beskikbare volumes is egter ’n probleem, sê Bruwer.
Termynkontrakte vir katoen bly naby aan die hoogste wat dit in 11 jaar was teen die agtergrond van ’n kleiner aanbod vanweë droogtetoestande in Amerika, terwyl daar ’n sterk vraag na dié vesel is. Sedert vroeg Januarie het min reën in die noordwestelike dele van Texas geval waar omtrent 40% van die Amerika se katoen geproduseer word.
Die stygende koste van plaagbestryding kan ook ’n impak op aanplantings in die Amerika hê.
Die wêreldkatoenprys word gerig deur die New Yorkse termynbeurs en die Cotlook-aanwysers. Daarom het die situasie in Amerika ’n noemenswaardige impak op die basisprys van katoen.