
Die KOF is gestig nadat PepsiCo die Suid-Afrikaanse voedsel-en-drankmaatskappy Pioneer Foods in Maart 2020 verkry het. As deel van hierdie verkryging moes PepsiCo hom daartoe verbind het om ’n fonds te stig wat daarop gemik is om Suid-Afrika se voedselstelsels te transformeer deur swart opkomende boere te ondersteun.
“PepsiCo het hom daartoe verbind om R600 miljoen oor ’n tydperk van vyf jaar in die fonds te belê. R200 miljoen is vir opleiding, R100 miljoen sal vir die ontwikkeling van klein- en mediumgrootte ondernemings en R300 miljoen is om swart opkomende boere te ondersteun,” sê me. Tshego Selepe, KOF se landboubesigheidsbestuurder, in ’n verklaring.
Mede-ondersteuners van die KOF se doelwitte vir Suid-Afrika se ontwikkelende boere oor PepsiCo se waardeketting heen is Standard Bank en Graan SA se filiaal die Phakama Grain Phakama-boere-ontwikkelingsprogram.
Een groep van die ontwikkelende boere wat glo reeds by ’n lening van die KOF en Standard Bank baat gevind het, is me. Lethiwe Mthethwa (33) en haar broers en susters van die plaas Milnerdale in die distrik Dannhauser in KwaZulu-Natal.
Luidens die verklaring het die Mthethwa-gesin lank mielies en sojabone op hul plaas verbou. Ná die dood van hul pa in 2018 is Lethiwe en haar broers en susters in volle beheer van die plaas Milnerdale-familie-onderneming gelaat.
“Dit was nie maklik om my pa se skoene vol te staan nie. Ons het voor baie probleme te staan gekom, soos ’n vrees vir mislukking, lae selfvertroue, ’n gebrek aan respek van ons plaaswerkers en die potensiaal dat dit alles ons gesinsdinamiek nadelig kan beïnvloed. Ten spyte hiervan het ons geglo ons kan die probleme oorkom,” sê Lethiwe.
Die finansiële en produksie-ondersteuning wat die Mthethwa-broers en susters via die KOF en sy mede-ondersteuners ontvang het, het hulle in staat gestel om ’n stwige somergraan-oes in 2021-’22 te behaal.
“Die meeste van Suid-Afrika se kleinskaalse vroulike boere is onderverteenwoordig in die boerderysektor. Dié boere maak oorwegend staat op die grond om hul gesinne te voed met die hoop op ’n klein surplus om vir ’n bykomende inkomste te kan verkoop. In wat ’n bemoedigende verhaal is, kon Lethiwe ná vanjaar se goeie oes haar lening aflos. Sy hoop alle kleinskaalse boere kan opgehef en ondersteun word met bedryfskapitaal, masjinerie, doeltreffende aanwending van geld, mentorskap en kommersiële leiding om te groei en aan hoofstroomboerdery deel te neem,” lui die verklaring.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.