
Wetenskaplikes het gedink landbougewasse sal kan aanpas by klimaatsverandering en in nuwe omgewings oorleef omdat hulle “ekstra” gene dra, maar ’n nuwe studie toon dis dalk nie die geval nie.
Navorsers aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en 'n span internasionale navorsers het dié studie in die vakjoernaal Ecology Letters gepubliseer. Hulle het bevind sekere plantspesies oorleef omdat hulle byvoorbeeld hul sade na areas met gunstiger habitatte kan versprei en nie omdat hulle by veranderinge in hul omgewings kan aanpas en sodoende nuwe spesies help vestig nie.
Dr. Kelsey Glennon, navorser aan die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Dier-, Plant- en Omgewingswetenskappe, sê hulle het bevind plantspesies met “ekstra” gene verkies dieselfde habitatte as ander plante met die “normale” hoeveelheid gene. “Dit beteken omgewingsfaktore speel nie ’n beduidende rol daarin om nuwe plantspesies te vestig nie.”
Sekere plantspesies, waaronder landbougewasse, het veelvuldige stelle chromosome in elke sel, maar mense en die meeste diere het slegs twee stelle. Wetenskaplikes het gedink “ekstra” gene help dié spesies om by veranderinge aan te pas en nuwe spesies te vorm. Volgens Glennon sal ons belangrike gewasse, ten spyte van hul vermoë om “ekstra” gene te dra, dalk nie by klimaatsverandering kan aanpas nie.