
By Overberg Agri se voorsaai-inligtingsdag, wat op Donderdag, 27 Februarie, op Rietpoel gehou word, word inligting verskaf oor hoe koring, hawer, gars, kanola en voergrane in die onlangse kultivar-evaluasies gevaar het.
Mnr. Jannie Bruwer, akkerboudkundige van SSK, gaan praktiese raad gee oor kanolaverbouing en die wenner van die Suid-Kaap kanolakompetisie gaan aangekondig word.
Dr. Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse departement van landbou gaan boere inlig oor die resultate van sy navorsing oor bemestingsriglyne vir volhoubare gewasproduksie.
By die Skog-voorsaaidag op Donderdag, 19 Maart, op Moorreesburg plaas dr. Roelof Botha groeivooruitsigte en die toekoms van die landbou in die soeklig en onkruidbestryding en onkruidweerstand sal ook bespreek word. Mnr. Sakkie Slabbert van die Wes-Kaapse departement van landbou sal die wenner van die Swartland-kanolakompetisie aankondig. Mnr. Willem Killian van die landbounavorsingsraad sal die jongste inligting oor koring-kultivarproewe aan boere meedeel.
Vir meer inligting oor Overberg Agri se voorsaai-inligtingsdag kan mnr. Pieter Burger by 028 214 3800 gekontak word, en mnr. Gert Conradie by tel. (022) 433 2370 kan in verband met die Skog-inligtingsdag gekontak word.