Die koste om koring te verbou in die somersaaigebied se vernaamste droëlandstreke, die Noordwes- en Oos-Vrystaat, behoort nie vanjaar vinniger as in die verlede te styg nie. As die prysaanduidings vir die komende seisoen in aanmerking geneem word, kan boere koring weer hier winsgewend verbou.
Mnr. AndreFerreira, senior ekonoom van Graan Suid-Afrika, sê die produksiekoste van droëlandkoring het van 2001 tot 2002 in albei produksiegebiede met sowat 15 % toegeneem en nóg stygings voor planttyd is moontlik.
Die dilemma vir koringprodusente in die somersaaigebiede kan eerder in opbrengs lê. Aangesien baie dele vanjaar minder reën as gewoonlik gekry het, kan temin vog in die grond hulle dalk van 'n goeie oes beroof.
As die boere genoodsaak is om in grond te plant wat nie nat genoeg is nie, en die jong koring moet in die droë maande met hierdie remskoen sukkel voordat die reëntyd aanbreek, kan dit die opbrengspotensiaal skaad. 'n Kleiner oes kan dan veroorsaak dat die inkomste en produksiekoste só na aan mekaar is dat die boer hom in 'n geldelike krisis bevind.
As dit egter aan die einde van die somer en in die herfs nog genoeg reën, kan die boere die koringseisoen met 'n geruster hart binnegaan, sê mnr. Ferreira.
Boere se wins met droëlandkoring was die afgelope jare in die algemeen goed. Hulle vaar die beste in die Noordwes-Vrystaat. Daar was die gemiddelde oes verlede jaar 2,89 ton/ha en die wins R1 827 per hektaar. Selfs toe dit in 2001 nie so goed gegaan het nie, was die gemiddelde opbrengs sowat 2,48 ton/ha en die wins R611 per hektaar.
In die Oos-Vrystaat het die boere verlede jaar gemiddeld 2,80 ton/ha geoes en sowat R852 per hektaar wins gemaak, terwyl die gemiddelde oes in 2001 sowat 2,75 ton/ha en die wins R442 per hektaar beloop het.
Hoewel die Noordwes-Vrystaat se opbrengs gewoonlik hoër is, is die groot verskil in die wins per hektaar. Die Oos-Vrystaat se boere se lopende koste om koring te verbou, is sowat R300/ha hoër as elders in die Vrystaat, terwyl hul vaste koste sowat R100/ha hoër is. Hulle betaal ook nagenoeg R100/ha meer om hul oeste te verseker omdat dit daar meer hael.
Die tabel verskaf meer besonderhede oor die produksiekoste en winsgewendheid van koring in dietwee streke.
Die koringprys lyk vanjaar belowend. Teen druktyd was die Safex-prys vir koring wat in Desember gelewer word, sowat R1 600/ton. Verlede seisoen het die boere nagenoeg R1 300/ton tot R1 500/ton uitgekry. As die vervoerdifferensiaal van nagenoeg R100/ton van die Desember-aanbod van R1 600/ton afgetrek word, behoort boere vanjaar nie swakker as in die vorige seisoen te vaar nie.
Daar was wel 'n ongunstige gevoel onder baie boere jeens koring omdat hulle in 'n stadium tot R2 000/ton op Safex aangebied is, en hulle nie soveel geld gemaak het nie. Dit is volgens mnr. Ferreira omdat hierdie boere hul oeste toe nie teen daardie goeie prys vasgemaak het nie, maar vir nóg hoër pryse gewag het. Die prys het daarna egter gedaal.
Dit is noodsaaklik dat die boere die markmeganismes deeglik gebruik wanneer hulle hul produkte bemark. Daarom is dit wenslik om nou 'n deel van die oes teen die Safexprys wat aangebied word, te "verkoop" by wyse van 'n voorafkontrak. Kenners beveel aan dat 'n derde van die potensiële oes vooraf gekontrakteer word.
"Moenie tot strooptyd wag om die hele oes te verkoop nie, want dan is die prys gewoonlik op sy laagste. Die boer behoort sy oes ook teen dalende pryse te verskans en terselfdertyd verseker dat hy voordeel uit stygende pryse trek."
Mnr. Ferreira sê dit is noodsaaklik dat boere na die hele akkerbouprentjie kyk wanneer hulle moet besluit of hulle koring gaan plant of nie. Dit is nie raadsaam om van die wisselbouprogram af te wyk nie. In die somersaaigebiede wissel hulle gewoonlik koring, mielies en sonneblomme met mekaar af. Dít verseker dat die druk van die belangrikste siektes en plae laag is deurdat die siektekettings met die verbouing van hierdie uiteenlopende soorte gewasse verbreek word. Navrae: Mnr. AndreFerreira, Graan SA, tel. 056 515 2145, of e-pos: andre@grain sa.co.za
Die gemiddelde produksiekoste en winsgewendheid van koring (2002) | ||
Item | Produksiekoste | |
| Noordwes- | Oos- |
Lopende koste (R/ha) | ||
Saad | 142,77 | 88,00 |
Kunsmis | 392,06 | 395,00 |
Bekamping van onkruid | 34,54 | 87,00 |
Plaagbestryding | 0,00 | 107,00 |
Brandstof | 318,71 | 271,50 |
Herstelwerk | 212,67 | 272,50 |
Oesversekering | 156,21 | 284,00 |
Seisoensarbeid | 4,14 | 2,00 |
Gereelde arbeid | 163,04 | 191,00 |
Rente op produksiekrediet | 168,17 | 171,70 |
Kontrakwerk | 98,12 | 172,00 |
Bemarking | 70,54 | 12,00 |
Ander koste | 103,00 | 138,00 |
Totaal | 1 863,97 | 2 191,70 |
Kapitale koste (R/ha) | ||
Masjinerie en gereedskap: | ||
Waardevermindering | 176,20 | 197,90 |
Rente | 264,30 | 296,85 |
Vaste verbeterings: | ||
Waardevermindering | 13,96 | 26,13 |
Rente | 52,35 | 97,99 |
Herstelwerk | 61,68 | 28,00 |
Totaal | 568,49 | 646,87 |
Totale koste (R/ha) | 2 432,46 | 2 838,57 |
Opbrengs (ton/ha) | 2,89 | 2,80 |
Koste (R/ton) | 841,68 | 1 013,78 |
Inkomste: | ||
Produsenteprys (R/ton) | 1 473,80 | 1 318,00 |
Per hektaar | 4 259,28 | 3 690,40 |
Wins/verlies: | ||
Per hektaar | 1 826,82 | 851,83 |
Per ton | 632,12 | 304,23 |
18 April 2003