
’n Senior verhandelaar by Farmwise Grains sê die prys vir die Desember-kontrak het Maandag 16 Mei op R7 851/t gesluit.
Die onsekerheid oor koringuitvoer as gevolg van die oorlog in Oekraïne is die grootste oorsaak van die styging in die koringprys. Die verhandelaar sê al kry die boere van Oekraïne dit reg om vanjaar koring te plant, is daar groot onsekerheid of hulle die koring sal kan uitvoer.
Rusland, wat 75 miljoen ton koring per jaar produseer en sowat 35 miljoen ton uitvoer, het in Maart ’n verbod op die uitvoer van koring na sekere lande geplaas.
Wêreldhandel en dus die aanbod van koring het ’n verdere knou gekry toe Indië die afgelope naweek ’n verbod op die uitvoer van koring geplaas het.
Volgens die verhandelaar veroorsaak die opskorting van koringuitvoer én ongunstige landboutoestande in dele van Amerika en Europa dat die wêreldvoorraad baie knap is.
“Die aanbodsituasie laat pryse hoër neig, maar dit kan verskriklik vinnig verander as die konflik tussen Rusland en Oekraïne beëindig word.”
Koringboere plant nog
Die meeste Suid-Afrikaanse koringboere het reeds hul koring van die 2021-oes verkoop en is aan die begin van die nuwe koringgroeitydperk.
Mnr. Pieter van Wyk, bemarkingsbestuurder van Wes-Kaap Graanprodusente, sê al is die boere nog besig om koring te plant, sal hulle tog baat vind omdat die pryse vir die nuwe seisoen ook hoog is.
Dis nog droog in die Swartland, maar die meeste boere behoort teen einde Mei klaar geplant te wees.
‘Inflasieskok’
Die verhandelaar van Farmwise Grains sê daar wag ’n groot inflasieskok op Suid-Afrika. Vir verbruikers in Suid-Afrika, wat jaarliks sowat 1,4 miljoen ton koring invoer, hou die hoë koringprys ongunstige implikasies in.
“Verbruikers gaan houe vat, want die broodprys en inflasie op voedsel kan deur die dak skiet. Die wisselkoers van rondom R16 per Amerikaanse dollar en duur diesel vererger die probleem, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook die res van die wêreld.”