As grond reg geklassifiseer word, kan dit saam met die regte plantestand en kultivars tot die perfekte bemestingstrategie lei wat vermorsing uitskakel en die maksimum wins verkry. Sodoende kan bemesting en stand elke jaar per sone verfyn en verbeter word.
Graanproduksie behels ’n magdom faktore wat alles ’n gesamentlike invloed het op die opbrengs, asook die potensiaal van ’n gegewe seisoen. Dit sluit faktore in soos die fisieke eienskappe van grond, grondchemiese vlakke, grondlewe, bewerking, reënval en hitte-eenhede.
Die lys kan lank raak . . . In hierdie artikel word gekyk na die belangrikheid van grondklassifikasie, asook die redes waarom dit so ’n groot impak op graangewasopbrengste het. Deur dit reg te bestuur, kan jy risiko’s beperk en optimale wins toon.