“Klante moet besluit of hulle die risiko gaan loop om te wag totdat pryse val, en terselfdertyd die kans loop om dan nie genoeg kunsmis te kry nie. Die skuiwe in die mark moet ook in ag geneem word,” sê Strydom.
Mnr. Ig Ferreira, streekdirekteur vir Suid-Afrika by die kunsmismaatskappy Yara, sê die beste raad wat hy nou vir boere kan gee, is om nie paniekaankope van kunsmis te maak nie.
“Paniekaankope kan lei tot ’n situasie waar sommige klante insette wat eers later in die jaar benodig word, in skure laat lê, terwyl daar nie in ander klante se korttermynbehoeftes voorsien kan word nie. Invoer word in die huidige situasie langer vooruit beplan,” sê Ferreira.