Mnr. Leo Pistorius, besturende direkteur van H. Pistorius & Kie. sê daar is meer as genoeg kalk by die meeste bronne, maar dat daar wel tans ’n tekort is aan Hiqualime, wat in eMalahleni (Witbank) vervaardig word. “Ons produseer sowat 1 500 ton per dag, maar die vraag oorskry 1 800 ton Hiqualime per dag.”
Pistorius sê daar is verskeie redes vir die tekort aan een spesifieke kalkproduk, insluitende markonsekerheid.
“Dit is eintlik onmoontlik om te voorspel hoeveel landboukalk daar op ’n jaargrondslag nodig gaan wees. Een jaar verkoop jy drie keer soveel kalk as ander jare en dan gebeur daar weer iets en verkope daal.