Die meeste mielieboere hoef nie vanjaar oor die
swartmieliekewer (Heteronychus arator
) bekommerd te wees nie. Omdat navorsers weet waar en hoeveel kewers die afgelope herfs gevlieg het, kan hulle met redelike sekerheid voorspel dat dieinsek nie vanjaar 'n ernstige plaag gaan wees nie.
In die algemeen verwag die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) op Potchefstroom vanjaar nie ernstige standverliese weens swartmieliekewers nie. Dit is onwaarskynlik dat boere sal moet oorplant. Die gemiddelde getal kewers wat tans voorkom, is effens meer as verlede seisoen, maar baie minder as voorverlede seisoen.
In die eerste gevaarsone is daar moontlik enkele lande waar standverliese kol-kol kan voorkom.
Kennis van die verwagte mieliekewergetalle kan boere help om onnodige en duur chemiese behandelings te vermy en voorkom ook blootstelling aan die chemiese middels. Ongeveer 80 mielieboere, versprei oor die oostelike deel van die mielieproduksiegebied, het gehelp om hierdie inligting in te samel. Dieboere monitor elke jaar drie maande lank ligvalle waarin jong kewers in die herfs gevang word.
Kewers wat later vlieg, is die kewers wat gedurende die lente skade aan jong saailinge gaan veroorsaak. Deur hulle te tel en dieinligting by die LNR-IGG met 'n rekenaar te verwerk, is die instituut in staat om voorspellings te maak. Die meegaande figuur wys die wisseling in kewergetalle sedert 1992.
'n Kaart waarop brandpunte (gebiede waar die meeste
kewers voorkom) aangedui word, is ook met behulp van 'n rekenaar geteken. Op die
kaart kan gesien word dat drie brandpunte op die Hoëveld voorkom, waar baie
kewers in die ligvalle beland het. Diedrie plekke is:
- Suid van Witbank, noord van Trichardt, wes van Hendrina en oos van
Delmas. Hier is tot 4 321 kewers in 'n ligval getel;
- Wes van Heidelberg (soveel as 2 281 kewers in een ligval);
- Suid van Platrand (tot 1 611 kewers in 'n ligval).
Swartmieliekewers veroorsaak egter nie net standverliese nie, maar beskadig ook enkele plante, wat dan 'n swak opbrengs lewer.
In 'n studie naby Windfield, in die distrik Villiers, is gevind dat die 950 kewers wat gedurende die herfs van 2001 in 'n ligval getel is, verlede seisoen 620 plante per hektaar beskadig het. Die regstreekse gewigverlies weens die kewers was gemiddeld 18 gram (10,4 %) per beskadigde plant, oftewel 11 kg/ha. Teen 'n mielieprys van R1 500 per ton was die verlies dus net R16,50 per hektaar. Dit sou ongeveer R75 tot R100 per hektaar gekos het om swartmieliekewers te bestry.
Die gemiddelde opbrengs van die onbeskadigde (gesonde) plante was 174 gram per plant. In diegeval is dit baie duidelik dat die boer wins sou inboet as hy geld bestee het om die kewers te bestry.
In bepaalde toestande die afgelope seisoen sou sommige boere egter wel gewen het of minstens nie 'n verlies gely het nie. Vier faktore kan 'n rol speel, naamlik die mielieprys, die prys van die plaagdoder, die potensiaal van 'n spesifieke land en toestande wat 'n spesifieke land (of kolle in die land) vir die kewers aanlokliker as ander lande maak.
Toe die mielieprys laag was, was dit ekonomies nie geregverdig om koste aan te gaan om die swak opbrengs van enkele plante te verhoog deur die plaag te bestry nie, veral op lande met 'n gemiddelde potensiaal. Teen die huidige hoë mielieprys kan dit tóg lonend wees om bestryding toe te pas op lande met 'n bogemiddelde potensiaal, want hoe hoër die opbrengspotensiaal van 'n plant, hoe hoër sal die gewigsverlies van 'n beskadigde plant wees.
Wanneer die jong kewers in die herfs die mielielande binnevlieg, konsentreer hulle gewoonlik meer op sekere kolle as ander. Die redes is waarskynlik onder meer die grondtipe, grondvog, humusgehalte of die vorige gewas wat daar verbou is.
Die kewers soek plekke uit waar hulle met gemak kan eiers lê, waar die eiers en jong larfies nie sal uitdroog nie, en die larwes (miswurms) genoeg kos (humus) sal hê om te oorleef. Boere wat van sulke kolle met 'n geskiedenis van kewerbesmetting weet, moet verkieslik bestrydingsmaatreëls op daardie lande toepas.
Omdat besproeiingslande nie net 'n gunstige omgewing vir die kewers is nie, maar ook 'n hoë opbrengspotensiaal het, kan dit nodig wees om die insekte hier te bestry.
Die gebruik van saadbehandelingsmiddels om swartmieliekewers te bestry, het ook sekere risiko's waarvan die boer bewus moet wees. Daar is byvoorbeeld gevind dat 'n skerp daling in temperatuur tydens ontkieming veroorsaak dat 'n groot persentasie saad wat met 'n bepaalde middel behandel is, nie opgekom het nie. Te veel reën het in 'n ander geval veroorsaak dat die betrokke middel se doeltreffendheid skerp afgeneem het. Laasgenoemde moet veral by besproeiingsmielies onthou word.
Die LNR-IGG het waardering vir boere wat aan dieprojek meewerk. Hulle help nie net om te verhoed dat medeboere onnodig duisende rande bestee nie, maar voorkom ook dat hulle weens die gebruik van chemiese middels aan onnodige, nuwe risiko's blootgestel word.
Dr. Tom Drinkwater is verbonde aan die LNR-Instituut
vir Graangewasse op Potchefstroom. Lesers met navrae kan hom skakel by tel. 018
299 6375.
25 Oktober 2002