Volgens die jongste aanbod- en vraagvooruitskouing van die Internasionale Katoenadvieskomitee (ICAC) word die gemiddelde Cotlook A-indeks vir katoen vir die 2002/3-bemarkingsjaar op 50 c/pond (1 146 c/kg) geskat. Dit is 2 c/pond (45,84 c/kg) laer as verlede maand se vooruitskouing, maar nogtans 8 c/pond (183,37 c/kg) hoër as die gemiddelde vir 2001/2.
Met 'n indeks van 1 146 c/kg, kan katoenboere R3,70/kg vir hul katoenpluksel kry, sê mnr. Hennie Bruwer, hoof uitvoerende beampte van Katoen SA.
Aan die aanbodkant sal die totale oppervlakte onder katoen in die wêreld na verwagting in 2002/3 met 5 % tot 31,9 miljoen hektaar daal, wat feitlik dieselfde oppervlakte as vir 1999/00 en 2000/01 is.
Voorts berig die ICAC dat regeringsmaatreëls in baie lande die afskaling van aanplantings verhoed om te vergoed vir die kwaai daling in katoenpryse die vorige seisoen. Hoewel vooruitsigte vir die Noordelike Halfrond, wat vir meer as 90 % van die wêreld se produksie verantwoordelik is, minder gunstig tydens aanplantings was, het toestande in verskeie produksiegebiede heelwat verbeter. Die gemiddelde opbrengs wêreldwyd sal na verwagting met 6 % afneem, gevolglik word verwag dat produksie vir 2002/03 met 10 % tot 19,2 miljoen ton sal daal.
Katoenverbruik het in China in 2001/02 met sowat 9 % toegeneem, maar verbruik in die res van die wêreld het met 1 % gedaal vergeleke met die vorige seisoen se verbruik. Die ICAC verwag dat verbruik in 2002/03 wêreldwyd met 2,5 % tot die rekordvlak van 20,6 miljoen ton sal toeneem weens die laer katoenpryse.
Wat die Suid-Afrikaanse oes betref, word die totale katoenoes 2001/02 op 97 128 bale veselkatoen geskat. Dit is dieselfde as die vorige skatting 'n maand gelede.
16 Augustus 2002