Van mode-ontwerper tot uitstekende soetrissieboer met 'n eiesoortig verpakte produk in minder as 18 maande. Dit is die suksesverhaal van me. Annelie McSeveney van Hoedspruit wat in 2000 nog rokke gemaak het en van boerdery niks geweet het nie.
'n Gier om van beroep te verander, het daartoe gelei dat sy met haar gesin se hulp 'n stukkie grond gehuur, 'n nethuis van 'n kwart hektaar opgerig en gereed gemaak het om met groente te boer.
"Ek kon in daardie stadium 'n kontrak kry om tamaties en soetrissies te lewer en het op rissies besluit omdat dit vanweë die langer raklewe meer tyd vir bemarking bied.
"Die eerste ses maande was baie moeilik. Ek moes my volle aandag aan die nethuis wy en ons huishouding was in wanorde. My man moes sy aandag bepaal by sy eie beroep as 'n bestuurder by Portsgate Sitrus in Hoedspruit en kon net tussendeur help en raad gee. Ná ses maande was ek baie broos en hy het gesê ek moet alles laat vaar as ek wil."
Dit het haar egter meer vasbeslote gemaak. Sy het besluit om deur te druk en die boerdery op die been gebring. "Die koöperasie en Hoedspruit se boere het my ook baie gehelp en raad gegee."
Gou het sy 7 500 plante onder rekenaarbeheerde drupbesproeiing in die nethuis van 50 m x 50 m gehad - aansienlik meer plante as wat gewoonlik in dieruimte gekweek word.
Die plante is afsonderlik in sakke geplant, met twee dele verrotte saagsels en een deel steenkoolas as groeimedium. Die kultivar wat me. McSeveney oorwegend plant, is Paso Real.
Volgens mnr. Leon Labuschagne, streekbestuurder van Letaba Landbou, is dit 'n mediumlaat California Wonder-soort rissie van uitstekende gehalte. "Dit het 'n hoë opbrengspotensiaal en lewer eenvormige vrugte wat soet en sappig is. Die plante is ook besonder sterk, het goeie siekteweerstand en is geskik om teen stutte opgelei te word."
Volgens hom is dit juis die opleiding van haar plante wat me. McSeveney se sleutel tot welslae is. "Baie boere glo die plant moet gelos word om 'n bos te vorm omdat hantering te veel stres vir die plant meebring. Dit is seker hier waar die ontwerpsin te sprake kom, want me. McSeveney se plante gedy ondanks die baie hantering. Ek het nog nooit iemand gesien wat só fyntjies met plante kan werk nie."
Me. McSeveney sê sy glo vas in die sukses van opleiding. "Die vrugte is baie meer blootgestel aan lig en lug en die opbrengs is hoër. Dit verg wel baie aandag en harde werk om elke dag na die duisende plante om te sien, maar dit is die moeite werd.
"As ek en my ses helpers op die hitte van die dag met die plante werk, is hulle slapper en as mens sagkens te werk gaan, is daar geen stres nie. As die blare ooplê, weet mens sommer die plante is gelukkig."
Te oordeel na die gesonde plante in die nethuis, het sy gewis 'n wenresep beet. Pleks van 'n gewone opbrengs van 15 tot 20 rissies per plant, kry sy 35 tot 40 bemarkbare vrugte per plant.
Die grootste welslae van haar boerdery lê egter in die bemarking van die produk. "Ek het aanvanklik aan 'n kettingwinkelgroep gelewer wat streng vereistes gehad het. Hulle het net belang gestel in eenvormige en eersteklas rissies wat meer as 160 gram weeg.
"Ek het nie van hierdie hand op my keel gehou nie en gedink daar moet 'n ander manier wees om die produkte vir die verbruiker aantreklik te maak. Ek het toe 'n bietjie gespeel met verpakkings, etikette en verskillende kleure en besluit op 'n verpakking wat ek glo vir die verbruiker aantreklik voorkom."
Dit was die begin van die handelsnaam, Fancy Peppers, waaronder sy nou bykans ál haar vrugte bemark. In hierdie stadium is die vraag só groot dat sy 'n tweede nethuis moet oprig.
Mnr. Labuschagne sê nog 'n element van haar wenresep is dat sy nie skroom om die maksimum in te sit ten einde die maksimum uit te haal nie. "Boere is geneig om altyd die goedkoopste opsie te kies en dan werk dit nie. Me. McSeveney huiwer nie om duur saad te kies, plante in afsonderlike sakke te plant, deeglik te bemes en haar nethuis met die grootste nougesetheid te versorg nie."
Die rekenaarbeheerde hidroponiese besproeiingstelsel verseker dat die plante 11 keer per dag 9 minute lank besproei word. Elke plant ontvang 135 ml water en bemesting per keer. Om siektes te voorkom en soute uit te was, word die plante 10 % oorbesproei.
Terselftertyd is daar ook uurliks een minuut se oorhoofse benatting om goeie humiditeit te verseker.
As bemesting gebruik sy 'n kunsmisvervaardiger se program, wat daarop gemik is om saam ál die nodige voedingselemente vir groei te verskaf. Die plante kry 600 gram van 'n produk wat ryk is aan fosfor, magnesium en yster, per 1000 l water om fotosintese aan te help. 'n Ander middel, wat ryk aan kalsium en stikstof is, verseker gesonde selwande en groei en word teen 500 gram/1 000 l water toegedien. In die negende week, wanneer die vruggies begin vorm, word kaliumsulfaat teen 250 gram/1 000 l water ook bygevoeg.
Vir me. McSeveney het alles egter nie altyd glad verloop nie. In Junie verlede jaar het 'n fout ingesluip toe suur gebruik is om alge in die besproeiingspype te vernietig. Sy het vergeet om die besproeiingstelsel aan te skakel en omdat die suur nie behoorlik uit die pype gewas is nie, het dit wortelbrand veroorsaak.
"Dit was op diedag besonder warm en die gebrek aan water het veroorsaak dat die plante blare begin verloor het. Ek het groot geskrik en dit het 'n groot poging geverg om die 7 500 plante te red. "Dit is terugslae soos hierdie wat 'n mens leer om die probleme te hanteer en nie moed op te gee nie. Terselftertyd besef jy jou afhanklikheid van die Skepper en besef jy dat die boerdery eintlik in sy hande is," is haar slotsom. 20 Desember 2002