Die plaaslike grondboonbedryf is te klein vir elke betrokkene om op sy eie te probeer werk. Almal moet saam dink en saam gesels. Een van die belangrikste redes vir die bedryf se swak prestasie is die gebreekte waardeketting, het me. Adri Botha (regs), voorsitter van die SA Grondboonforum, op ’n simposium van die SA Grondboonforum op Potchefstroom gesê.
Die plaaslike en wêreldekonomie wankel en die grondboonbedryf word nie gespaar nie. Almal – van produsente en verwerkers tot kopers en verkopers – het ’n mindere of meerdere mate van onsekerheid en verwarring oor wat die toekoms inhou en hoe elkeen hom so goed moontlik kan staal.
“Die beste wat ons kan doen, is om na die feite te kyk, uit die verlede te leer en vorentoe te kyk, terwyl ons wag en hoop dat die wêreld homself regruk. “Dit is nou belangriker as vantevore dat almal in die grondboonsektor in dieselfde rigting dink, praat en doen.”