Geen doeltreffende stelsel bestaan tans in Suid-Afrika vir die bepaling van die gehalte en die gradering van lusernhooi nie. Evaluering geskied tans slegs in ad hoc-gevalle en oorwegend in die vorm van 'n gebrekkige visuele graderingstelsel. Derhalwe bestaan daar 'n dringende behoefte aan 'n akkurate metode om die gehalte van lusernhooi te bepaal en 'n stelsel om dit te gradeer.
Só 'n metode sal voordele vir sowel die produsent as die verbruiker van lusernhooi inhou. Vir die lusernprodusent sal 'n akkurate evalueringstelsel verseker dat 'n aanvaarbare produk gelewer word en die regte prys (selfs 'n premie) vir lusernhooi van 'n spesifieke gehalte verkry kan word. Dit sal ook as aansporing dien vir die produsent om deurlopend lusernhooi van hoë gehalte, en ook die regte gehalte, te produseer.
Lusernverbruikers sal aankope kan differensieer volgens bepaalde behoeftes. Hulle sal met ander woorde lusernhooi kan aankoop wat oor die fisieke en chemiese eienskappe beskik wat vir 'n bepaalde produksiefunksie benodig word. Dít sal verseker dat die prys wat betaal word, in ooreenstemming is met die gehalte van die lusernhooi, en ook die diereprestasie wat nagestreef word.
Verskillende verkopers se pryse kan eweneens op 'n gelyke gehaltebasis beoordeel word. In sy geheel sal 'n graderingstelsel verseker dat voedingstowwe soos vesel en ruproteïen sinvol en kostedoeltreffend aangewend word.
Lusernhooi word hoofsaaklik in melkbeesrantsoene ingesluit. 'n Graderingstelsel vir lusern sal dus in die eerste plek op melkbeeste gerig moet wees. Daar kan verwag word dat só 'n evalueringstelsel ook op ander herkouers, soos vleisbeeste en skape, van toepassing kan wees.
Ruvoergehalte is die belangrikste enkele faktor wat die sukses en winsgewendheid van 'n melkboerdery bepaal. Dit is noodsaaklik dat hoog produserende koeie die minimum benodigde verteerbare growwe vesel sal inneem om optimum rumenfermentasie, en dus maksimum deurvloeitempo, droëmateriaal- en energie-inname, asook melkproduksie met die gewenste samestelling te verseker.
Die gebruik van maklik verteerbare ruvoer hou die koste van kragvoer in toom. Verder dra lusernhooi ook by tot die ruproteïen, minerale en vitamiene in die rantsoen.
Ruvoer kan op twee maniere gegradeer word. Dit behels onderskeidelik die evaluering van fisieke en chemiese eienskappe deur visuele inspeksie en objektiewe meting (chemiese analise).
Mnr. Gerrie Scholtz, 'n M.Sc.-student aan die Universiteit van die Vrystaat, het verskillende modelle vir die bepaling van luserngehalte in Suid-Afrika nagevors en geëvalueer. Uit diestudie is die mees akkurate en praktiese model geïdentifiseer.
Hierdie model is deur 'n taakgroep bestaande uit verskeie kundiges en belanghebbendes in die lusernbedryf toegepas om 'n graderingstelsel vir lusernhooi te ontwikkel. Dit sluit visuele beoordeling en ook objektiewe meting in. Laasgenoemde behels die neem van monsters, die maal van die monster, chemiese ontleding, die bepaling van die gehalte, kontrole en gradering volgens spesifieke gehaltestandaarde.
Lusernhooi word visueel beoordeel ten opsigte van stamvog, kleur, vreemde materiaal, blaarinhoud en snystadium, soos in die tabel uiteengesit. Vragte wat gemeng is, sal die laer graad se gradering ontvang. Vragte wat deur reën beskadig is, sal outomaties graad 3 wees.
Die chemiese samestelling van 'n voer (objektiewe meting), wat voedingswaarde weerspieël, is slegs so goed soos die monster wat geneem is. 'n Monster van 1 kg of minder verteenwoordig meestal tonne van die voer waaruit dit geneem is. Die monster moet dus so verteenwoordigend moontlik geneem word.
Afsonderlike monsters moet geneem word van:
- Hooi afkomstig van verskillende plekke en verskillende lande op dieselfde
plaas. Die grondtipe en die reënval kan tot verskille in die chemiese
samestelling van die voer lei.
- Verskillende snysels. Seisoensverskille is groot.
- Verskillende groeistadiums, byvoorbeeld die voorblom-, vroegblom-,
volblom- en saadstadium.
Vyftien monsters moet op verskillende plekke uit elke vrag geneem word. As die hooi in baalvorm is, moet die monsters wat van bale geneem word, so wyd moontlik versprei word. Die hele monster wat geneem is, moet in 'n skoon plastieksak (nie 'n kunsmissak nie) of 'n glasbottel verseël en aan 'n laboratorium gestuur word vir ontleding.
'n Monster van minstens 250 g moet deur 'n sif van 1 mm gemaal word. Chemiese ontleding word deur 'n naby-infrarooi-spektrofotometer gedoen om gradering te bespoedig. Vir eenvormige ontleding sal kalibrering deur Senwesko Voere op Viljoenskroon gekoördineer word.
Kontrole kan deur die koper van lusernhooi self gedoen word. Verder sal die Nasionale Lusernorganisasie op 'n gereelde grondslag kontrolemaatreëls toepas.
Lusernhooi kan in klasse/grade ingedeel word volgens die gehaltestandaarde wat in die tabel op bladsy 17 aangedui word. Die volgende model word vir die bepaling van luserngehalte gebruik:
Luserngehalte-indeks (LGI)
= DMI x [IVOMD + (RP x
3,8)] 7 3,57.
DMI is die droëmateriaalinname van 'n luserngebaseerde rantsoen as 'n persentasie van liggaamsgewig bereken vanaf die neutraalbestande veselinhoud van lusernhooi. IVOMD is die in vitro-verteerbaarheid van organiese materiaal en RP is die ruproteïen.
Die waarde 3,8 is 'n faktor wat deur iterasie (herhaling) bereken is volgens die gemiddelde koste per kilogram ruproteïen van grondbone-, katoen-, soja- en sonneblomoliekoek in verhouding tot die koste per kilogram energie afkomstig van vet en koolhidrate van mielies vir 'n periode van ses jaar van 1997 tot 2002. Dit verleen groter belangrikheid aan ruproteïen in die model. Die waarde 3,57 is om luserngehalte as 'n indeks uit te druk.
Prof. H.J. (Hentie) Van der Merwe is verbonde aan
die departement Vee-, Wild- en Weidingkunde van die Universiteit van die
Vrystaat.
Suksesvolle
stelsel se vereistes
Vir die suksesvolle toepassing
van 'n graderingstelsel in die praktyk, moet dit aan die volgende vereistes
voldoen:
- Dit moet bekostigbaar en so eenvoudig moontlik
in die praktyk toegepas kan word.
Die bepaling van die gehalte en die gradering van 'n
snysel en/of besending lusernhooi moet vinnig kan geskied.
Die bepaling van die gehalte moet volgens die mees
akkurate model geskied. Die model moet in die praktyk toegepas kan word en
spesifiek vir lusernhooi ontwikkel wees.
Visuele (subjektiewe) beoordeling moet deel wees van
die bepaling van die gehalte en die gradering.
Objektiewe meting moet oorwegend toegepas word
(chemiese analise).
Die maksimum toelaatbare voginhoud moet gespesifiseer
word.
Die maksimum toelaatbare vreemde materiaal moet
gespesifiseer word.
Die blaarinhoud van lusernhooi van hoë gehalte moet
hoog wees.
Lusernhooi se kleur moet gespesifiseer word.
Die grense van voedingstofinhoud ten opsigte van
ruproteïen, energie, suurbestande en neutraalbestande vesel moet gespesifiseer
word.
Die bruikbaarheid van verskillende grade
(ruvoerklasse) vir melkbeeste in verskillende fisiologiese stadiums moet
beskryf word.
Bykomende inligting aangaande die
voedingstofsamestelling moet verskaf word, wat meer akkurate
rantsoenformulering moontlik sal maak.
Die bepaling van die gehalte van 'n snysel en/of
besending lusern moet gekontroleer kan word.
Die bepaling van die gehalte en die gradering moet
vir alle rolspelers aanvaarbaar wees.
Die stelsel moet toegepas kan word in Suid-Afrikaanse
toestande.
Beskrywing van
grade
Prima (LGI (luserngehalte-indeks) van meer as
128):
Dit is lusernhooi met 'n lae veselinhoud en hoë verteerbaarheid wat veselinname, herkou, speekselproduksie, rumen-pH, rumenfermentasie, asynsuurproduksie en bottervetsintese nadelig kan beïnvloed. 'n Hoog oplosbare ruproteïeninhoud kan hoë ureumvlakke in die bloed veroorsaak en sodoende swak reproduksie tot gevolg hê.
Diegraad is meer geskik vir jong kalwers (twee tot drie maande). Dit moet saam met ander soorte ruvoer (tef, oulandsgras, grondbonehooi, mielieblare en graad 2-lusern) met 'n hoër veselinhoud in laktasierantsoene ingesluit word om genoegsame, doeltreffende vesel te verseker en die genoemde probleme te voorkom.
Graad 1 (LGI van 128 tot 108):
Hierdie klas is die mees geskikte vir gebruik in rantsoene vir hoog produserende melkbeeste. Rantsoene met 'n hoë inname en energie-inhoud wat vir hoë melkproduksie nodig is, sal geformuleer kan word. Die bruikbare veselinhoud sal genoegsame herkou en speekselproduksie, die verlangde rumen-pH, die gewenste rumenfermentasie, asook 'n verhoogde asynsuurproduksie en bottervetsintese bewerkstellig.
Hierdie lusernhooi is ook geskik vir kalwers en jong, groeiende verse (ses tot 15 maande).
Graad 2 (LGI van 107 tot 90):
Graad 2-lusernhooi met 'n hoër veselinhoud en laer veselverteerbaarheid kan saam met Prima-lusern in rantsoene van lakterende koeie ingesluit word. Dit kan ook vir die voeding van ouer verse (15 tot 24 maande) aangewend word.
Graad 3 (LGI van minder as 90):
Hierdie ruvoer is selde geskik om aan hoog produserende koeie te voer. Dit is net geskik vir droë koeie tydens die eerste fase (30 dae) van die droë periode. As daar probleme met 'n lae bottervet-inhoud is, kan klein hoeveelhede ingesluit word om herkou te vermeerder en om 'n meer gewenste rumen-omgewing vir asynsuurproduksie en bottervetsintese in die uier daar te stel.
Sentrale
gesagstruktuur moontlik
'n Enkele gesagstruktuur vir die Suid-Afrikaanse lusernsaad- en lusernhooibedryf - wat bekend sal staan as die Nasionale Lusernorganisasie (NLO) - sal heel moontlik op 1 September 2003 in werking kan tree.
Mnr. Derick Engelbrecht, hoofbestuurder van die Lusernsaad-organisasie, sê vergaderings is reeds in die afgelope maand met sommige lusernhooihandelaars gehou om hulle in te lig oor die werksaamhede en funksies en/of dienste van só 'n nuwe struktuur. Verdere vergaderings sal in Maart gehou word om alle handelaars in te lig.
Gedurende April en Mei sal vergaderings met alle lusernhooiprodusente plaasvind. Die lusernhooihandelaars en -produsente moet die nuwe struktuur steun en hul goedkeuring daaraan verleen vir implementering. Die bepaling van die gehalte en gradering van lusernhooi is nou die eerste stap in die regte rigting. Daarna sal gekoördineerde navorsing en die versameling van inligting (soos die hoeveelhede (in ton) lusernhooi wat geproduseer is en bemark is) op 'n maandelikse basis volg. Daar lê groot uitdagings voor vir die hele lusernbedryf in Suid-Afrika, sê mnr. Engelbrecht.
Gehaltestandaarde vir lusernhooi | |||||||||||
Graad/ | LGI1 | RP2 | SBV3 | NBV4 | IVOMD5 | DMI6 | Vog7 | Kleur | Vreemde | Blaar- | Stadium |
Prima | 128 | >20 | <33 | <40 | 71 | 3,03 | <16 | Heldergroen | Geen | Hoog | Voor of in vroeë bot- stadium |
1 | 128-108 | >18 | 33-38 | 40-46 | 68,6-71,0 | 2,68-3,03 | <16 | Heldergroen, | 0-2 | Hoog | 1% tot 10% blom |
2 | 107-90 | >16 | 39-42 | 47-51 | 66,4-68,5 | 2,37-2,67 | <16 | Liggroen, met verkleurde strepe, oorwegend groen | 2-5 | Medium | 10% blom tot volblom |
3 | <90 | >14 | >42 | >51 | <66,4 | <2,37 | <16 | Bruin en liggroen deur die baal | >5 | Laag | Volblom met rooi blare |
1 = Luserngehalte-indeks. | |||||||||||
2 = Ruproteïen. | |||||||||||
3 = Suurbestande vesel. | |||||||||||
4 = Neutraalbestande vesel. | |||||||||||
5 = In vitro-verteerbaarheid van organiese materiaal. | |||||||||||
6 = Droëmateriaalinname as 'n persentasie van liggaamsgewig. | |||||||||||
7 = Bale met hoë stamvog kan teruggestuur word ten spyte van die gemete voginhoud. Douvog is aanvaarbaar. | |||||||||||
8 = Skadelike plante en geproklameerde onkruide word teruggestuur. |
28 Februarie 2003