Scout is die maatskappy Advanta se eerste wit mieliekultivar wat in Suid-Afrika vrygestel is. Mnr. Fanie le Roux, hoof van bemarking en verkope, het op 'n boeredag by Bapsfontein gesê diemaatskappy gaan sy mieliekultivars verder vermeerder om sterker in die mieliesaadmark mee te ding.
Hoewel hulle op vier na die wêreld se grootste saadmaatskappy is, is hulle nog relatief klein in die Suid-Afrikaanse mieliemark. Met ander graansoorte en oliesade is hulle sterker verteenwoordig en hulle verkoop onder meer 70 % van die kanolasaad en 20 % van die sonneblomsaad wat in Suid-Afrika geplant word.
Die eerste Bt-mielie met ingeboude weerstand teen stronkboorder word ook later vanjaar verwag. In Amerika is daar reeds verskeie sulke basters.
Die ontwikkeling van eie kultivars vir plaaslike toestande kry nou 'n verdere hupstoot, danksy 'n nuwe kweekhuis wat op Advanta se proefplaas by Bapsfontein opgerig is. Seleksie kan nou in ideale groeitoestande dramaties versnel word sodat nuwe kultivars gouer die lig sien.
Die nuwe wit mielie, Scout, is 'n ultrakortseisoen-baster met 'n hoë opbrengspotensiaal. Die plant is sterk, kiemkragtig en groei vinnig wat vroeë aanplantings moontlik maak. Die graan se hoë gehalte en hardheid, asook weerstand teen blaarsiektes, is van die beste eienskappe. Dit is vir droëland én besproeiing geskik.
'n Nuwe geel kultivar, Energy, is ook vrygestel. Dit is in dieselfde groeiseisoenklas as die ander twee staatmaker-kultivars, Woodriver en High Flyer. Energy het goeie weerstand teen siektes en is wyd aangepas. Gevolglik is dit vir besproeiing én droëland geskik. Diegroeikragtige baster het 'n hoë opbrengspotensiaal.
Die ander nuwe geel mielie, Brasco, is 'n medium-kortseisoenkultivar. Die nuutste teelvordering het tot gevolg dat dit 'n uitstekende opbrengspotensiaal het. Die staanvermoë is goed en dit het weerstand teen kopsiektes. Diebaster word algemeen as maatstaf vir prestasie op besproeiingslande gebruik.
Daar is ook 'n nuwe sonneblom, Hysun 3.34, wat in die voetspore van die top-presteerders Hysun 3.33, Hysun 3.38 en Hysun 3.50 volg. Die nuweling is in die mediumgroeiseisoenklas en spog met 'n puik opbrengspotensiaal, mooi sekelnek, goeie verdraagsaamheid teen droogte en vinnige afdroging.
Die reeks sorghumkultivars is uitgebrei met die toevoeging van 'n nuwe graansorghum, MR Buster, 'n kort-mediumgroeier. Die MR beteken muggieweerstand ("midge resistance"), want dit het 'n natuurlike weerstand teen sorghummuggies. Diebaster word ruim 10 dae tot 14 dae gouer ryp as die algemene basters op die mark. Dit het minder vog nodig om fisiologiese volwassenheid te bereik, het 'n goeie staanvermoë en uitstekende oesbaarheid aangesien die are hoog bo die loof gedra word. Ander eienskappe is 'n kort groeihoogte, rooi graankleur, baie goeie plantreswaarde en 'n matige tot sterk spruitvermoë. Dit blom 60 tot 68 dae ná planttyd.
Onder die voergewasse is daar ook 'n nuweling, Sweet Jumbo. Dit word ingesluit by die maatskappy se reeks maklik bestuurbare kultivars, Jumbo, Sugargraze en Nutrifeed, wat die regte eienskappe het om enige veeboerdery se kostedoeltreffendheid te verhoog.
Sweet Jumbo produseer vinnig voer en het 'n hoë suikerinhoud. Vinnige hergroei verseker dat dit etlike kere bewei kan word. Dit bevat min blousuur.
30 Mei 2003