
Die naam "Sudden Death Syndrome" is nie regtig 'n raak beskrywing van die siekte nie. Infeksie en simptome verskyn nie oornag nie en die siekte veroorsaak nie noodwendig die totale afsterwing van die plant nie. Die “skielik” verwys eerder daarna dat dit boere onkant betrap wat nie gereeld lande inspekteer nie,” verduidelik dr. Rikus Kloppers, senior bestuurder van gewasdienste by Pannar-saad.
Die “Sudden Death Syndrome”-sojasiekte is deur oplettende produsente van die Lydenburg-omgewing in die 2013-seisoen in Mpumalanga gewaar. Die goeie nuus is dat navorsingswerk oor weerstandbiedende kultivars, beste bestuurspraktyke en chemiese saadbehandeling onder die Suid-Afrikaanse toestande reeds aan die gang is.
Simptome
“Teen die tyd dat simptome goed sigbaar is, is dit reeds te laat om iets daaraan te doen,” sê Kloppers. “Die eerste en baie kenmerkende simptoom is die vergeling en later verbruining van die blaar tussen die are, wat groen bly. Blare in die geaffekteerde kolle kan ook voortydig afval en al wat oorbly is die blaarstele op die groen stamme.”
As die simptome op die blare gewaar word, moet die plant uit die grond getrek word om die tweede en derde simptome te identifiseer. “Die wortels vrot en blou spoormassas is op die oppervlak van die penwortel sigbaar. Dit sal veral prominent wees onder vogtige toestande,” volgens dr. Kloppers.
Boere wat hierdie simptome waarneem moet sodra moontlik ’n erkende laboratorium kontak om die identiteit van die siekte te bevestig. Kontak dr. Tewoldemedhin by: tewoldemedhiny@arc.agric.za, of dr. Kloppers by: rikus.kloppers@pannar.co.za
Hoe om SDS te bestuur
Sodra die simptome in die land waargeneem word, is dit te laat om dit te beheer. Swamdoder-bespuitings op die stadium sal nie SDS beheer nie. ’n Matige SDS-infeksie beteken allermins dat die totale oes verlore is.
Die eerste praktyk is om weerstandbiedende kultivars te plant en, volgens dr. Kloppers, sal dit ook die beste voorkomende maatreël wees om SDS die hoof te bied.
Tans moet boere dus die faktore wat wel beheer kan word, so goed as moontlik bestuur om verspreiding van SDS en verliese te beperk. “Koel, nat toestande bevorder SDS en ander wortelsiektes. Grondbewerking kan dreinering verbeter en die siekterisiko verlaag, maar aangesien die siekte grondgedraagd is, kan werktuie weer die siekte in en tussen lande, versprei,” verduidelik dr. Kloppers. Wisselbou bied slegs ’n mate van beheer teen SDS.
Kortom:
•’n Nuwe soja-siekte het die afgelope twee seisoene reeds in SA voorgekom. Infeksie floreer onder nat, koeler toestande.
•Vroeë aanplantings is meer onderhewig daaraan, maar simptome is gewoonlik eers sigbaar net na blom of tydens peulvul.
•Simptome van hierdie siekte is verbruining van blare tussen die are, verrotte wortels met blou swam-spoor massas op die penwortels en ’n verbruining van die korteks van die stam.
•As die simptome sigbaar raak is die plant reeds besmet en sal chemiese swamdoders geld in die water wees.