
Só meen mnr. Deon Scheepers, besturende direkteur van Southern Hemisphere Seeds. Hy was een van die sprekers tydens Agri Gauteng se Jongboerkonferensie wat by die Diamond Lodge in Cullinan gehou is. “Suid-Afrika gaan ’n sojaboon-dominante land word, met mielies as sekondêr, en dit gaan nog binne my leeftyd gebeur,” het Scheepers gesê.
Hy het die verandering verduidelik aan die hand van voorbeelde uit Argentinië en Brasilië wat albei gedurende die 1980’s sterk mielie-produserende lande was. “Ná die koms van nuwe sojaboontegnologie, het Argentinië van primêre mielieproduserende land oorgegaan na ’n land wat teen verlede seisoen rondom 250 miljoen ton sojabone teenoor 20 miljoen ton mielies geproduseer het. Suid-Amerika het hierdie roete ingeslaan nadat biotegnologie in die sojaboonbedryf sy lande in daardie rigting gedruk het. En dit gaan hier ook gebeur.”
Afrika benodig proteïen
Scheepers het gesê Afrika as vasteland het ’n tekort aan proteïen, terwyl ’n oormaat styselbronne bestaan. “Daar is dus reeds ’n groot genoeg mark om sojaproduksie vanuit Suid-Afrika op te neem,” het hy gesê. Terselfdertyd gaan nuwe biotegnologiese ontwikkelinge die voordeel net al hoe meer in boere se hande plaas met die produksie van sojabone.
“Die Intacta RR2 Pro-sojaboonkultivar wat in Maart vanjaar bekend gestel is, is die eerste tree in hierdie rigting. Ons is reeds ’n GM-produserende land, en die Intacta-geen bied nou aan Suid-Afrikaanse boere die volgende groot ontwikkeling in die bedryf.” Scheepers het gesê dat die sojaboonheffing wat sowat vier jaar gelede ingestel is, dit moontlik maak om hierdie tipe tegnologie na Suid-Afrika te bring.
“Dit gaan ’n reusesprong in produksie vir plaaslike produsente bied. Net in Brasilië het die Intacta-kultivar die landsgemiddeld van 2,7 t/ha op 33 miljoen ha in 2015 tot 3,7 t/ha op 40 miljoen ha geneem, nadat 90% van die totale sojaboonaanplantings in die land na Intacta RR2 Pro oorgeskakel het. Dit is ’n 33%-opbrengsverbetering, waarvan Bayer meen twee derdes aan die kultivar toegeskryf kan word, met die res aan beter boerderytegnieke en gunstige weersomstandighede.”
Nog nuwe kultivars in die vooruitsig
Scheepers het gesê dat Suid-Afrikaanse boere hulself kan regmaak vir nog nuwe tegnologie. “Twee van die belangrikste nuwe tegnologieë, HB4 en Enlist, gaan in die komende paar jaar hierheen gebring word, met HB4 wat reeds groot belofte in proewe toon waar die kultivar ’n sterk opbrengsverhoging onder droër toestande getoon het. Dit is goeie nuus vir plaaslike produsente wat gereeld onder ’n midsomerdroogte deurloop, terwyl Enlist op sy beurt weer weerstandig is teen die onkruiddoder 2,4-D. Uiteindelik gaan al hierdie nuwe tegnologieë boere help om doeltreffender te boer en meer wins uit hul boerderye te verdien.”