Daar is al in 2019 begin om opnuut te kyk na die graderingsregulasies vir mielies. Produsente ervaar ’n groot probleem met inkonsekwente toepassing van die huidige graderingsregulasies, en te gereeld word dieselfde besending mielies op twee verskillende plekke verskillend gegradeer.
Dít het gelei tot ’n uitgebreide ondersoek om te bepaal waar die probleem lê. Verskeie aspekte van die regulasies is onder die loep geneem, en ná uitgebreide navorsing is bepaal dat waterbeskadigde en gevlekte pitte nie ’n noemenswaardige invloed op maalgehalte het nie.
Sulke pitte is groot en swaar, en net een só ’n pit wat verkeerd geklassifiseer word, kan ’n groot invloed op die graad hê. Aangesien die navorsing en ondersoeke bewys het dat dit nie maalgehalte benadeel nie, is ooreengekom om die regulasies sodanig aan te pas om te keer dat die produsent onnodig gepenaliseer word.