
Die bedryf was ietwat verras toe die nasionale oesskattingskomitee (NOK) die verwagte koringoes met 22 900 ton (1,03%) tot 2,249 miljoen ton opwaarts aangepas het. Die verwagte opbrengs is 3,97 t/ha.
Dit is die tweede agtereenvolgende keer dat die oesskatting opwaarts aangepas is. Dit is nou net ’n kort koppie agter verlede jaar se oes van 2,285 miljoen ton. Verlede maand is die verwagte oes met 0,71% opwaarts aangepas tot 2,226 miljoen ton.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, wys daarop dat die vyfde skatting vir die Wes-Kaap met 2% op is. “Dit is effens teen die verwagting in, aangesien die droë weer in die Wes-Kaap opbrengste geknou het. Die Vrystaat is ook 2% op teenoor die vorige skatting en die Noord-Kaap is net 1% af. Dit is weer minder as wat verwag is aangesien boere in die Noord-Kaap erge fusarium-skade aangemeld het.”
Die NOK sê in sy vyfde skatting wat pas bekend gemaak is, die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 990 000 ton (44% van die land se geheel), in die Vrystaat is dit 480 000 ton (21%) en in die Noord-Kaap 357 200 ton (16%). Die oppervlakteskatting vir koring is 566 800 ha. Hiervan is die beraamde oppervlakte beplant in die Wes-Kaap sowat 360 000 ha of 64%, die Vrystaat is 96 000 ha of 17% en 47 000 ha of 8% is in die Noord-Kaap.
Die NOK het die produksieskatting vir gars onveranderd gelaat op 356 850 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 101 000 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,53 t/ha beloop. Die verwagte kanola-oes is ook onveranderd gelaat op 210 530 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 123 510 ha, met ’n verwagte opbrengs van 1,70 t/ha.
Die verwagte oes vir hawer vir die 2022-seisoen is 37 700 ton en die oppervlakteskatting is 27 000 ton. Die verwagte opbrengs is 1,40 t/ha. In die geval van soetlupiene is die produksieskatting 15 750 ton, wat 6,25% of 1 050 ton minder is as die vorige skatting van 16 800 ton. Die oppervlakte beplant met soetlupiene is 21 000 ha, met ’n verwagte opbrengs van 0,75 t/ha.
Die sesde produksieskatting vir wintergewasse vir 2022 word op 26 Januarie 2023 bekend gemaak. Die eerste oppervlakteskatting vir somergewasse sal ook dan bekend gemaak word.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.