
Mnr. Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA, sê hoewel kontrakte vir die nuwe seisoen nog oop is, is daar aanduidings dat meer boere katoen wil plant. “Die eerste aanplantings begin middel Oktober en dit duur tot einde November. Dit is nou nog baie moeilik om voorspellings te waag, maar ons hoop beslis op meer aanplantings, want die boere het hierdie seisoen oor die algemeen goed gedoen.
“Dan is daar natuurlik ook die wisselbouvoordele wat boere in gebiede soos die Noord-Kaap in gedagte moet hou as daar vir ’n lang tyd nie katoen geplant is nie. Daar kan steeds goeie geld uit katoen gemaak word al is die proses dalk ingewikkelder met byvoorbeeld die bemarking daarvan. Die mielieboer kry sy geld as hy sy produk lewer. Die katoenboer kry ’n voorskot gegrond op gehalte en dan kry hy eers aan die einde van die seisoen die res van sy geld. Baie boere wil nie wag nie.”
Volgens Augustus se skatting staan die jongste oes nou op sowat 71 000 bale vesel wat 4,3% hoër is as die vorige maand se skatting omdat daar meer hektare beplant was as wat vroeër beraam is. Die oes is egter steeds sowat 10% minder as die vorige seisoen en bykans 50% laer as die seisoen voor dit.
Pluisproses en beurtkrag
Die pluisproses is sowat 85% afgehandel en kon al klaar gewees het as dit nie vir beurtkrag was nie. “Die verwerkingsproses is op sommige plekke soos in die Loskopgebied vertraag en dit het natuurlik ook ’n koste-implikasie, want almal wil die prosesse so gou moontlik voltooi om koste te beperk,” sê Bruwer.
Luidens die markverslag het uiterste weersomstandighede ook ’n impak op die bedryf internasionaal. Dit sal lei tot wisselvalligheid in die mark en potensieel hoër pryse vir die hele 2022-’23-seisoen. Verskeie lande loop deur onder uiterste weerstoestande op ’n vlak wat nog nooit voorheen in die geskiedenis ondervind is nie.
Vloede in Pakistan
Die skade aan gewasse weens vloede in Pakistan, die wêreld se vyfde grootste katoenproduserende land, is verwoestend en talle landerye is geheel en al onder water. Groente en katoen word die kwaaiste getref, maar die werklike skade sal eers bepaal kan word as die watervlakke daal.
Voorlopig is die raming vir Pakistan se katoen-oes verlaag van 1,88 miljoen ton tot 1 miljoen ton. Die land se jaarlikse verbruik is 2,2 miljoen ton en sowat 1,2 miljoen ton sal ingevoer moet word om in die vraag te voorsien. Die groot kwessie is egter of daar voldoende voorraad internasionaal beskikbaar gaan wees.
Die invloed van droogte op die katoen-oes in die weste van Texas in Amerika is ook verwoestend en daar word ’n verlies van meer as ’n miljoen ton vergeleke met die vorige seisoen verwag. Op ander plekke in Amerika was daar ook vloedskade aan katoen en die totale oes word nou op 2,7 miljoen ton geraam.
Australië en Indië
Ook in Australië was daar vloede gedurende oestyd wat die geraamde oes met 100 000 ton tot 1,14 miljoen ton verlaag het, terwyl vloede en siektes in Indië tot ’n verlies van 5% tot 7% in die totale oes gelei het.
Wat die wêreld se vraag- en aanbodsituasie betref, staan die geraamde produksie vir 2022-’23-seisoen nou op 24,7 miljoen ton, wat ’n tekort van 600 000 ton teenoor die normale verbruik van 25,3 miljoen ton beteken. Weens die swakker ekonomiese omstandighede wêreldwyd kan die verbruik egter ook laer wees as hierdie vlak.
Die internasionale prysverwagtinge vir die seisoen wissel van 99 Amerikaanse sent per pond tot 157 sent per pond met ’n gemiddelde van 127 sent.
Bruwer sê as mens in ag neem dat die langtermyngemiddelde 70 sent is, is hierdie baie goeie prysverwagtinge. “Die feit dat katoen in dollar verhandel, bied ’n voordeel aan produsente as mens in ag neem dat die meeste insette in dollar aangekoop word. By ander gewasse word insette in dollar gekoop, maar die produkte word in rand verkoop.”