“Ons het gedink ons is op pad na ’n krisis toe, maar ek is bevrees ons is reeds midde-in hom,” het prof. Charlie Reinhardt, hoogleraar in landboukunde aan die Noordwes-Universiteit en ook programleier van die Suid-Afrikaanse inisiatief vir onkruiddoderweerstand (SAHRI) by die Universiteit van Pretoria, oor die jongste verwikkelinge gesê.
Ná die onkruid vroeër op ’n mielieplaas by Potchefstroom in Noordwes opgemerk is, is daar nou bevestig dat dit wel die Palmer-variant is. Daar word vermoed dat dit ook nou op plekke in die Oos-Vrystaat voorkom.
Dit is moeilik om dié onkruid van plaaslike misbredie-variante te onderskei. Een van die plaaslike weergawes staan algemeen as marog bekend en dien as ’n voedselbron vir mense in veral landelike gebiede.