Boere wat vanjaar swig voor die verwagting van 'n
hoë mielieprys in die seisoen 2002/03 en meer mielies plant as wat wenslik is,
waag baie.
Kan 'n mens graanboere in die somer-reëngebiede werklik verkwalik as hulle vanjaar meer mielies ten koste van alternatiewe gewasse plant om geld te maak? Dit is per slot van sake die gewas waarmee hulle goed vertroud is en nou is daar die kans om 'n slag geld te maak.
Boere moet egter in ag neem dat as die oppervlakte onder mielies ten koste van ander gewasse toeneem, dit die aanbod van verskillende graansoorte erg kan skeeftrek. Deur te veel mielies te plant, kan die boer sy finansiële risiko vergroot. As dit deel van 'n saaiboer se doelwit is om risiko (die kans om te misluk) so klein moontlik te hou, is dit onwys om mielies op ál sy grond te plant.
Deur van meer gewasse na net een af te skaal, vergroot die boer gewoonlik sy produksierisiko. (Die grootste produksierisikofaktor in Suid-Afrika is die wisselvallige reën-val.)
'n Feit wat byna jaarliks bevestig word, is dat wanneer een gewas gedurende 'n seisoen onderpresteer, 'n tweede gewas nie noodwendig óók swak vaar nie. As 'n boer met gewasse diversifiseer, maak hy die risiko weens wisselvallige reënval of droogte kleiner. Indien die gewasse mekaar op 'n beplande wyse in 'n wisselboustelsel afwissel, word die risiko nóg verder verklein.
Omdat boere tradisioneel gewasse se bruto marges bereken en daarvolgens besluit of 'n gewasvertakking in die toekoms uitgebrei, verklein of gestaak moet word, neem hulle kwalik kennis van die risiko's. In die tradisionele sin is risiko nie so maklik meetbaar nie en vir baie mense waarskynlik net 'n vae begrip. Gevolglik word die risiko dikwels nie in besluitneming in ag geneem nie.
Risiko kan ook beskryf word as die onvermoë van 'n gewas om oor jare 'n verlangde marge bo koste te behaal. Dit is in geld meetbaar.
Gestel 'n boer wil R500/ha per jaar as ondernemersloon (of rente op sy belegging) verdien en 'n gewas se marge is in 'n spesifieke jaar net R300/ha, dan is daar 'n tekort van R200/ha. As dietekorte oor 'n aantal jare bymekaar getel word, is dit 'n manier waarmee gewasse of gewasrotasiestelsels vergelyk kan word. Só is die risiko meetbaar en maklik verstaanbaar.
'n Langtermynwisselbouproef wat deur die LNR-Instituut vir Graangewasse en die LNR-Kleingraaninstituut by Bethlehem uitgevoer is, en waarin onder meer mielies, koring, sojabone, droëbone en sonneblomme ingesluit is, illustreer baie goed hoe wisselbou en die gepaardgaande diversifikasie die risiko verminder.
Deur Computus Bestuursburo se vertakkingsbegrotings
(2001) te gebruik (tabel 1 ), is marges bo die totale koste vir elke gewas vir elke jaar van die proef bereken.
TABEL 1: Die produksiekoste en graanpryse | ||
Gewas | Produksie- | Graan- |
Mielies | 2 431 | 750 |
Koring | 2 055 | 1 200 |
Droëbone | 3 150 | 3 100 |
Sojabone | 2 051 | 1 200 |
Sonneblom | 1 968 | 1 650 |
Tabel 2
toon dat die gewasse se risiko betreklik hoog is.
Oor die ses jaar het mielies 'n opgehoopte tekort van R1 118/ha gelewer.
Dit beteken 'n boer wat R500/ha per jaar as sy ondernemersloon beskou, oor ses jaar 'n opgehoopte loontekort van R1 118/ha gehad het.
Koring se opbrengs begin afneem sodra dit in 'n enkelgewasstelsel verbou word, van daar die lae gemiddelde marge (R456/ha) en taamlik hoë risiko van R1 382/ha. Droëbone het besonder goed gevaar gemeet aan die marge (R1 518/ha), maar bied steeds 'n taamlik hoë risiko.
TABEL 2: Die gemiddelde bruto marge en risiko-opgehoopte marge onder R500/ha van 'n aantal gewasse afsonderlik en in wisselbou- stelsels oor ses jaar | ||
Gewasse | Gemiddelde marge bo totale koste (R/ha) | Risiko-opgehoopte marge onder R500/ha |
Gewasse afsonderlik | ||
Mielies (enkelgewasstelsel) | 1 389,00 | 1 118,00 |
Koring (enkelgewasstelsel) | 456,00 | 1 382,00 |
Droëbone ná mielies | 1 518,00 | 1 095,00 |
Sojabone ná mielies | 676,00 | 2 273,00 |
Sonneblomme ná koring | 1 463,00 | 79,00 |
Wisselboustelsels met 'n gelyke oppervlakteverdeling tussen gewasse | ||
Mielies, koring, droëbone | 1 627,00 | 0,00 |
Mielies en sojabone | 1 025,00 | 498,00 |
Mielies, sonneblomme, koring | 1 137,00 | 0,00 |
Sojabone het 'n taamlik lae marge en besonder hoë risiko (R2 273/ha)
getoon. Dit kan egter eerder toegeskryf word aan die relatief lae prys wat
gegeld het as aan die graanopbrengs. As die prys R1 400/ton was, sou sojabone
se marge R1 131/ha en die risiko R1 497/ha beloop het.
Sonneblomme, wat redelik teen droogte bestand is, het 'n besonder lae
risiko van R79/ha getoon.
Volgens die tradisionele beoordeling, wat slegs die marge in aanmerking
neem om oor 'n gewas se produksietoekoms te besluit, sou koring en sojabone
duidelik daaronder gely het.
As hierdie gewasse in 'n wisselboustelsel geplant word, verander die
prentjie heelwat. Dan dra sojabone en koring, ondanks hul hoë
risikopotensiaal, by om die wisselbou-stelsel se risikopotensiaal in sy geheel
te verlaag. Mielies en koring se opbrengs in 'n wisselboustelsel is dikwels
hoër as wanneer slegs een verbou word, en die feit dat gewasse nie tot
dieselfde mate op reënval reageer nie, verlaag die risiko as dit vir die
wisselboustelsel bereken word.
Die gemiddelde marge bo koste kan effens daal teenoor byvoorbeeld dievan
mielies in monokultuur, maar die groot invloed is in die risiko geleë. Tabel 2
toon ook die marges en risiko's van enkele wisselbouvoorbeelde.
In vergelyking met die risiko's van die gewasse afsonderlik, is die risiko
van die wisselboustelsels dramaties laer, veral wanneer koring as wintergewas
deel van die stelsel uitmaak. Trouens, vir twee van die wisselbouvoorbeelde
was daar geen opgehoopte tekort vir die sesjaartydperk nie.
Hierdie resultate geld vir die Oos-Vrystaat en die vraag is of dit ook
elders van toepassing sal wees. Die grond waar die proewe gedoen is, is
taamlik vlak (sowat 650 mm) en sanderig en het dus 'n taamlik lae potensiaal
vir akkerbou. Volgens aanduidings sal die ri-siko tussen 'n enkelgewasstelsel
en wisselbou op grond met 'n hoër akkerboupotensiaal nie so dramaties verskil
nie. Hoe meer marginaal die grond is, hoe doeltreffender is wisselbou
waarskynlik vir die beperking van risiko.
Dit is duidelik dat droëbone, sojabone en sonneblomme se bydrae tot die
vermindering van risiko nie geringgeskat moet word nie. Afgesien daarvan dat
die opbrengs van koring en mielies wat op hierdie gewasse volg, dikwels
verhoog word, is diegraan se gehalte ook beter as dievan graan wat in 'n
enkelgewasstelsel geproduseer word. Siektes, soos kopvrot by mielies en
vrotpootjie by koring, is ook minder as in 'n monokultuurstelsel. Sekere
soorte onkruid word boonop doeltreffend deur wisselbou bestry.
Wisselbou bring noodwendig diversifikasie van gewasse mee, wat op sigself
'n verskansing teen prysrisiko's bied, omdat die prys van verskillende soorte
graan gewoonlik nie in dieselfde mate verander nie.
Elke oplossing vir 'n probleem het gewoonlik ook nadele. Wisselbou se
nadeel is dat dit groter bestuursvaardigheid en tegniese kennis vereis.
Dikwels moet hy ook gewasspesifieke toerusting aanskaf as hy nuwe gewasse in
die wisselboustelsel inbring. Die veevertakking, wat 'n belangrike rol op
menige plaas speel, sal moontlik ingekort moet word, aangesien sommige gewasse
minder hooi as ander lewer.
Produksiekoste en graanpryse verander gedurig en dit het uiteraard 'n
invloed op die marges en risiko's wat in hierdie artikel getoon is. Wisselbou
is egter 'n doeltreffende manier om die produksierisiko te beperk.
As 'n boer meer as een gewas verbou, behoort dit in wisselbou te geskied,
anders gaan heelwat van die moontlike voordele verlore en is die enigste
voordeel slegs die diversifikasie van die boerdery.
Wisselbou het eenvoudige reëls. Breëblaargewasse soos droëbone, sojabone en
sonneblomme behoort net een seisoen op 'n land verbou te word voordat
oorgeskakel word na grasagtige gewasse soos mielies, koring en sorghum wat
langer as een seisoen op 'n land verbou kan word.
Lesers wat meer inligting nodig het, kan in verbinding tree met dr. Andre Nel, Private sak X1251, Potchefstroom 2520. Sy e-posadres a_nel@ops1.agric.za, telefoonnommer 018 299 6396 en faksnommer 018 297 6572.
Dr. AndreNel is verbonde aan die LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom.
27 September 2002