Tamaties kan in plaas van peulplante teen die draad- of latwerk opgelei word. Jaar twee kan jy met 'n gemengde akkertjie begin.
Daarná volg wortelplante, met koolplante in die derde akkertjie. Jaar drie word weer met koolplante begin. Dit word opgevolg deur gemengde groente en afgesluit met die wortelgroep.
Elke keer as die akkertjies verwissel word, moet die grond in elkeen bemes word om in die behoefte van die bepaalde soorte groentes te voldoen. In die gemengde akkertjies behoort 'n dik laag kompos ingewerk en 'n veeldoelige kunsmis in die boonste grondlaag ingehark te word om in almal se behoeftes te voorsien.
Plek vir 'n eie groentetuintjie is daar miskien nie waar mense in volgepakte blokke woonstelle of beknopte skakelhuisies woon nie. Ook nie by diegene wat in deftiger meent- of dorpshuise bly nie. Maar elkeen wat oor 'n plekkie beskik wat minstens ses uur per dag sonskyn kry - soos teen 'n oostelike of noordelike muur of wat 'n stoepie of patio het - kan 'n houertuintjie prakseer.
Hier word dan beoog om inflasie te klop met die kweek van jou eie groente, en enige houer wat jy kan bekostig of byderhand het, soos ou buitebande, swart plastieksakke, 'n afgeleefde plastiekemmer, 'n konka, balie of asbespotte, sal voldoende wees. In sulke houers, en met 'n bietjie saad van tamaties, kropslaai, radyse, soetrissies, geelwortels, beet, jonguie, pietersielie, tiemie, ens. kan die honger en siekte weggehou word. Diegene wat dit kan bekostig, kan natuurlik deftiger potte vir diedoel aanskaf.
Sal dit slaag? Gewis! Dis dieselfde son, grond, water en bemesting wat in 'n gewone groentetuin gebruik word, wat ook in 'n pottetuin vir gesonde voedsel sal sorg. Nie alleen is die groenigheid tussen die hoë mure wat jou omring salwend vir die gees nie, maar vir die oog is die blink groen en rooi rissies, die rooiryp tamaties en die geel murgpampoentjies 'n bron van genot en rede om te spog by die bure!
Daar is boonop baie voordele met die kweek van groente in potte. Dit is makliker om elke plant op sy eie van sy nodige voedingstowwe en water te voorsien. Dreinering is ook meer geslaag, omdat elke pot of houer eers 'n laag klippies, stukkies baksteen of gebreekte potskerwe onderin kry voordat met grond opgevul word. Houers kan ook verskuif word na 'n meer beskutte posisie om wind in die winter af te weer. Selfs as die son op 'n sekere tyd van die jaar te min is, kan die potte weekliks gedraai word om alkante son te kry.
Daar is natuurlik ook nadele aan verbonde. Die grond in die houers droog makliker uit, verál in die somer, aangesien die wortels van die plante nie net van bo af warmte kry nie, maar wel van die hele omvang van die pot. Daar moet dus sorgvuldig gelet word op die benatting van die grond in potte, aangesien dit noodsaaklik is dat die grond nooit moet uitdroog nie. Groenteplante put ook baie krag uit die grond en voldoende bemesting sal moontlik meer dikwels nodig wees as vir groentesoorte wat in die oop grond groei. (Lees volgende keer oor nog belangrike vereistes vir 'n pottetuin.) 6 September 2002