’n Mens se besigheid kan ook nie sonder diversifikasie en presisietegnologie oorleef nie – en as jy saam met familie wil boer, moet daar genoeg werk vir almal wees om die vrede te bewaar.
Met die intrapslag op Dasvlei op ’n koel oggend in Mei kan ’n mens sien dit is planttyd. Die plaaswerf staan vol werktuie en die wintergewasse is byna klaar geplant. Dié plaas buite Philadelphia in die Wes-Kaap is byna so oud soos die dorpie self. Die Mostert-familie het die plaas in 1891 bekom.
Tans boer die vyfde geslag daar. Soos baie ander plase in die gebied is daar aanvanklik met graan en melkbeeste geboer. Later is skape, wingerd en vleisbeeste bygevoeg. Dasvlei het oor die jare tot 900 ha uitgebrei.