Kanola kan 'n goeie opbrengs lewer en die boerderyrisiko versprei. Maar daar
is 'n aantal riglyne wat nougeset gevolg moet word. Daaronder is vroeg plant en
die bestryding van gras en insekte in die saailingstadium.
Kanola moet
gevestig word wanneer die grond goed nat is. Dit is dus belangrik dat boere 'n
land onmiddellik plant nadat dit voorberei is. Hulle moet nie eers ál hul lande
regkry en dan begin saai nie, want teen daardie tyd is die grondvog dalk reeds
te min.
Maak land vir land klaar en begin eers die volgende land se
voorbereiding wanneer die vorige land klaar gesaai is, sê mnr. Petrus Fouchevan
die saadmaatskappy Advanta Afrika.
Met hierdie werkwyse kan vroeë kanola se
opbrengs met 'n half ton en meer per hektaar verhoog word. Boere het al kanola
geoes nadat dit vier maande lank niks gereën het nie - maar die saad is in nat
grond geplant. Koringboere het sowat 900 kg/ha geoes, maar die kanola het meer
as 1 ton/ha gelewer.
Dit is raadsaam om eerder 'n bietjie vroeg te plant in
grond wat nat is, as later in grond wat net klam is. As die grond nog net klam
is nadat dit gereed gemaak is, moet die boer eerder wag totdat die grond
heeltemal droog is en dan saai. Die saad sal dan ontkiem nadat dit weer gereën
het.
In die winterreënstreek word aanbeveel dat boere kanola eers vanaf
middel April saai. As boere egter tot middel April wag in jare wat dit reeds
einde Maart of vroeg April reën, het die grond dalk reeds te droog geword en sal
die saad swak opkom.
Mnr. Fouchesê as 'n boer die regte produksieriglyne
volg, is 'n opbrengs van 1,5 ton/ha tot 2,5 ton/ha en meer moontlik met so min
as 250 mm tot 450 mm reën gedurende die groeiseisoen.
Proewe het reeds gewys
dat tot 1,5 ton/ha geoes kan word met net 180 mm in die groeiseisoen. 'n
Plantestand van sowat 15 plante/m2 is genoeg om 'n goeie oes te
lewer.
Sulke goeie oeste is egter net moontlik as 'n boer die
volgende doen:
- Vroeg saai.
- Goeie groeitoestande en warm herfsdae kies om te plant.
- Enige stremming voorkom, soos onkruid wat water en voedingstowwe onttrek,
en luise en ander insekte wat saailinge beskadig.
- 'n Eenvormige plantestand verseker om ongelyke rypwording te verhoed.
- Genoeg bemesting gee.
- Die regte oespraktyke volg.
Mnr. Fouchesê sommige boere maak reeds
met planttyd 'n fout wat hulle duur te staan kan kom. Met planttyd moet die boer
'n eenvormige stand bewerkstellig. Die saad moet so gou moontlik ontkiem en die
saailinge moet geen insekskade kry nie.
Te diep plant laat die saad twee keer
stadiger opkom as die vier tot tien dae wat dit gewoonlik duur. Die grootste
probleem is dat hulle die saad soms só diep plaas dat dit twee keer so lank as
die gewone vier tot tien dae duur om op te kom. Plante wat langer as gewoonlik
neem om op te kom, word langer aan insekskade en swamsiektes blootgestel. Dit
benadeel die plantestand.
In die winterreënstreek maak boere deesdae selde 'n
saadbed omdat minimum bewerking ál gewilder word. As die grond wel vooraf bewerk
word, moet die saadbed gelyk en ferm wees om te verseker die klein saadjies word
nie te diep geplant nie.
Die saadbed moet dus nie telos wees nie, want dan
val die sade te diep in en kom dalk nie op nie. Sade wat wel te voorskyn kom,
lyk dikwels pieperig, want dit is nie groeikragtig nie. 'n Ferm saadbed het die
voordeel van 'n eenvormige opkoms, lewenskragtige saailinge en 'n eenvormige
stand. As die grond dus te los is, moet dit eers met 'n roller of eg
gekompakteer word voordat die saad geplant word.
'n Swak stand word soms ook
veroorsaak deur die metode wat die boer volg om die saad onder die grond toe te
maak.
Planters raak ál gewilder. Die planters se tande maak die grond lekker
diep los, wat ideaal vir kanola is. Die planter plaas die saad dan vlak genoeg.
'n Drukwiel dra ook by tot vinnige opkoms en groeikrag. Dit lei ook tot minder
kompaksie tussen die rye, met vinniger uitdroging en ongunstige groeitoestande
vir onkruid.
Ongelukkig gebruik boere soms 'n eg om die saad met grond te
bedek en terselfdertyd 'n gelyk oppervlak vir verdere spuit- en ander aksies op
die land te skep. Die eg werk egter tot 60 mm diep en begrawe as 't ware die
saad te diep.
Ongelyke saadplasing op verskillende dieptes is ook nadelig vir
'n egalige plantestand. Weens die beweging van water in die grond is daar
vogverskille op verskillende dieptes. As dit min reën en die buie val met
tussenposes, word die grond nie op alle dieptes ewe nat nie. Daar is dus dele
wat droër as ander is. As die saad dan op wisselende dieptes lê, is die kans
goed dat sommige sade in droë grond is en dan sal al die sade nie gelyk opkom
nie.
Temperatuurverskille is ook 'n sondaar wanneer die saad op verskillende
dieptes gesaai word. Sade wat in grond teen 'n sonnige helling gesaai word, kom
beter op, terwyl saad in klipperige grond swakker ontkiem. Die ideaal is dus
grond wat oral ewe nat is en ewe diep geplant word.
Soms kry die boer
standverskille tussen kultivars en selfs tussen lande. Dit word algemeen deur
saadgrootte, swak kalibrering, 'n kombinasie van die grond se tekstuur en
struktuur en temperatuurverskille veroorsaak.
Verskille in die tipe saadhuid
en grootte van die saadjies kan 'n verskil beteken tussen die hoeveelheid water
wat die saad opneem, terwyl verskillende sade ook nie almal dieselfde
hoeveelheid vog benodig om te ontkiem nie. Dit word vererger as die grond te
droog is.
Dit is belangrik om die planter reg te kalibreer om vir
saadgrootte voorsiening te maak. Kultivar A se duisendkorrelgewig is byvoorbeeld
3,7 g en dievan kultivar B 6,27 g. Teen 'n plantdigtheid van 4 kg/ha beteken
dit 108 sade/m2 vir kultivar A. As die vestigingspersentasie 27,8 % is, sal
daar 30 plante/m2 opkom. Kultivar B se sade is groter en sal teen dieselfde
saaidigtheid net 55 sade/m2 gee; dus 18 plante/m2 teen dieselfde
vestigingspersentasie.
Mnr. Fouchebeveel dus aan dat die planter vir elke
kultivar gekalibreer word as die saadgrootte verskil. Dan weet die boer die
planter sal die gewenste saaidigtheid handhaaf.
Hoewel fosfaat, kalium,
swael, molibdeen, boor, sink en mangaan belangrik vir kanola is, moet
stikstofbemesting bykomende aandag kry.
Op droëland moet hy minstens
dieselfde hoeveelheid stikstof gee as vir koring, met een belangrike verskil:
Koring kry met saaityd 60 % van die benodigde stikstof en die res later as 'n
kopbemesting. Kanola moenie meer as 40 % van die stikstof met saaityd kry nie.
Die res word vanaf pieringgrootte, of minstens met stamverlenging, toegedien,
want die maksimum opname van stikstof by kanola is vanaf
stamverlenging.
Gedurende 'n goeie reënjaar kan die kanola 20 % tot 50 %
meer stikstof as koring kry. Die ekstra stikstof kan selfs in die blomstadium
toegedien word, wat die opbrengs steeds sal verhoog. Laat toedienings sal ook
goed wees wanneer 'n duidelike stikstoftekort voorkom.
Bestry insekte en gras
vroeg
Insekskade by kanola veroorsaak 'n swak stand. Volgens ondersoeke oor jare in die Swartland en die Suid-Kaap doen insekte reeds voor opkoms skade aan kanolaplantjies. Dit veroorsaak soms dat geen plante opkom nie.
Plante word ook bo die grond afgevreet. Dit verklaar die verskynsel dat die plante verdwyn. Hierdie skade word gewoonlik deur snywurms en valsdraadwurms veroorsaak. Kewers rig ook skade aan, want hulle vreet die plante bo die grond af.
Mnr. Petrus Fouchesê boere moet dus nie vir die plante wag om op te kom voordat hulle met insekbestryding begin nie. Hulle moet insekdoder voor saaityd saam met die onkruidmiddels in grond inwerk. Andersins kan dit ná saaityd oor die grond gespuit word.
As die boer nie 'n vooropkoms-onkruiddoder gebruik nie, moet hy grasse vroeg ná opkoms spuit. Kanola, wat 'n stand van 20 plante/m2 tot 50 plante/m2 het, is baie gevoelig vir mededinging deur grasonkruid, waarvan meer as 50 plante/m2 in 'n kanolaland kan groei. Sulke onkruid gebruik baie water en voedingstowwe wat die kanolaplante toekom.
Hoe meer grassoorte op 'n plaas voorkom, hoe vroeër moet dit gespuit word. Moenie wag totdat al die grasse ontkiem het nie. In proewe is opbrengste met tot 400 kg/ha verhoog deur 'n vooropkoms-onkruiddoder toe te dien, teenoor kanola waarin 'n ná-opkomsmiddel gebruik is.
Jong saailinge moet luisvry gehou word, veral wanneer die kanola droogtestremming het. Luise in die groeipunt, wat moeilik raakgesien word, kan veroorsaak dat die plante ophou groei. Pers verkleuring dui soms op stremming weens luise.
As die boer ontslae raak van dit wat die stremming
veroorsaak, moet hy dadelik bemesting gee om skade te beperk.
Kanola se vele voordele
Markte en hanteringsgeriewe vir kanola het die afgelope jare baie verbeter namate diegewas aansien verwerf het as 'n onontbeerlike deel van 'n wisselboustelsel. Dit het groot voordele as dit in 'n wisselboustelsel gebruik word, sê mnr. Dirk Hanekom, eerste landbouwetenskaplike van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap. Hy evalueer tans verskillende kultivars in diestreek.
Die voordele, in 'n neutedop, is:
Met goeie bestuurspraktyke is dit 'n alternatiewe
gewas met 'n hoë inkomste en stabiele opbrengs. Dit versprei gevolglik die
risiko.
Dit verminder siektes en plae van opvolgende
graangewasse omdat dit die siekteketting verbreek. Die produksiekoste is dus
laer.
Die diep penwortelstelsel is as 't ware soos 'n
biologiese ploeg, wat die opvolggewas se wortelindringing verbeter. Reën dring
die grond makliker binne en gronderosie verminder. Ploegbanke/verdigtingslae
moet egter steeds opgebreek word.
Die wortelstelsel het 'n bioberoking-uitwerking op
die grond, wat grondgedraagde siektes verminder.
As die oesreste betyds ingewerk word, word 'n groot
hoeveelheid voedingstowwe weer in die grond vrygestel.
Die bestryding van probleemonkruid, soos
predikantsluis, kan in die kanolajaar geskied.
Diegewas skep beter geleenthede vir 'n geïntegreerde
strategie vir onkruidbestryding om weerstand teen chemiese middels te
bekamp.
Koring wat ná kanola geplant word, lewer op daardie
land tot 25 % meer weens 'n gunstige wisselbou-uitwerking, terwyl die koring
se gehalte ook verbeter.
Kanola pas goed by bestaande boerderystelsels,
aangesien gewone graantoerusting daarvoor geskik is en plant- en oesaksies nie
met koring s'n bots nie.
Winsmarges vergelyk gunstig met dievan koring.
Navorsing op Elsenburg het bewys dat die drakrag van
kanolastoppels goed vergelyk met dievan koring.
30 Augustus 2002