Ondanks die debakel oor die handelsnaam en die gepaardgaande hofsaak in
Amerika, gaan dit goed met die rooibosteebedryf. Die bedryf is in 'n sterk
groeifase, en in die laaste vyf jaar het uitvoer bykans versesdubbel. Die
besturende direkteur van Rooibos Beperk vertel meer.
Rooibostee is skielik weer sterk op die voorgrond - diekeer nie net weens sy eiesoortige smaak en aroma nie, maar weens 'n regsgeding wat die maatskappy Rooibos Beperk by die appÉlraad van die Amerikaanse patentekantoor aanhangig gemaak het.
Behalwe dat dit 'n duur en uitmergelende hofgeding kan word, gaan dit andersins eintlik baie goed met diebedryf wat eie aan Suid-Afrika is, en die Weskus in die besonder, sê mnr. Martin Bergh, besturende direkteur van Rooibos Beperk op Clanwilliam.
Die verbruik van rooibostee in die binneland is redelik stabiel. Rooibostee maak sowat 18 % van die totale teeverbruik in die land uit. Binnelandse verbruik van rooibostee is nou 3 800 ton per jaar, nadat dit die laaste ses jaar van 3 500 ton per jaar gestyg het.
Die groot suksesverhaal van rooibostee is egter die fenomenale groei in uitvoer. Net in die eerste ses maande vanjaar was die totale uitvoer van dieproduk al 2 500 ton. Dit is merkwaardig, veral as in ag geneem word dat 2001 se totale uitvoer 4 000 ton was. In 2000 is in totaal 2 800 ton uitgevoer, in 1999 was dit 1 800 ton, in 1998 1 200 ton, en in 1997 net 700 ton.
Rooibostee se gewildheid groei wêreldwyd. Die vinnigste groei is in Duitsland - nog altyd een van die grootste verbruikers van rooibostee. Wat ál meer gebeur, is dat die Duitsers die rou produk invoer, dit verwerk en geur, en daarna weer uitvoer.
Die verbruik van rooibostee is egter ook in ander Europese lande stewig aan die groei, soos in Nederland, Oostenryk, Pole en Brittanje.
'n Taamlike groei word in Japan ervaar, asook in ander Oosterse lande soos Taiwan en Maleisië. Die land waar die probleme nou ontstaan het, Amerika, het die produk ook nou "ontdek", en die verbruik daar groei geweldig.
Mnr. Bergh sê toekomstige groei is moeilik voorspelbaar. As iemand hom vyf jaar gelede gevra het wat die oorsese verbruik in 2002 sou wees, sou hy dit heeltemal verkeerd voorspel het.
"Wat ons deeglik besef, is dat ons in 'n baie sterk groeifase is. Baie markte is nog glad nie ontgin nie - soos diein die Mediterreense lande en Australië.
"China is die ontwakende reus. As net 'n klein hoeveelheid van die miljoene Chinese leer rooibostee drink, kan dit 'n bykans onversadigbare mark word. Die moontlikhede vir uitvoer is dus nog groot."
Mnr. Bergh sê dit is moeilik om te bepaal of Suid-Afrika in só 'n stygende wêreldvraag sou kon voorsien. Dit word bereken dat 'n produksie van 15 000 ton per jaar onder die huidige omstandighede haalbaar is. In 2001 is vir die eerste keer meer as 50 % van die totale rooibosteeproduksie uitgevoer. Namate vraag groei, pas boerderypatrone daarby aan.
Rooibostee is egter uiters klimaat- en grondspesifiek, en die gebied waar dit aangeplant word, is beperk. Die ideale klimaat is Mediterreens, met 'n lae winterreënval en sanderige, arm grond - kenmerke wat die Sederberg se verweerde sandsteengrond presies tipeer.
Rooibos is 'n ekstensiewe produk en heelwat hektaar is nodig om dit lonend te produseer. Die siklus is lank - ongeveer 10 jaar - waarin gemiddeld sowat 1 700 kg droë tee per hektaar afgehaal word.
Daar word gemiddeld 7 000 ha tot 8 000 ha nuwe rooibostee per jaar gevestig. Die plant het 'n lewensduur van ses jaar, waarna die grond vir vier jaar vir ander gewasse gebruik moet word voordat tee weer daarop gevestig kan word.
In diestadium word sowat 10 % tot 15 % van die rooibostee organies verbou. Hoewel dit 'n omgewingsvriendelike produk is waarop geen kunsmis of doders gebruik word nie, word kunsmis en insekdoders wél gebruik wanneer ander gewasse op die grond gevestig word. As die rooibostee dus heeltemal organies geproduseer moet word, sal dieproses aangepas moet word. Die ideaal is om rooibos grotendeels of selfs heeltemal organies te verbou, sê mnr. Bergh.
Rooibos Beperk voorsien tee aan sowat 95 % van die binnelandse mark, en sowat 50 % van alle rooibostee wat uitgevoer word, word ook deur diemaatskappy verskaf.
Wat die produksie van rooibostee betref, was die winters van 1998 tot 2000 baie droog, wat gelei het tot 'n groter vraag as die beskikbare aanbod. In 2001 was dit 'n meer normale winter, wat 2002 se produksie heelwat beter gemaak het. Die vraag is steeds ietwat groter as die aanbod, maar in 2003 behoort vraag en aanbod baie naby aan mekaar te wees.
Dít kan die produsentepryse ietwat benadeel, maar omdat dit 'n droëlandproduk is, loop die aanbod baie nou saam met die klimaatsomstandighede. 'n Beleid word gevolg om reserwes op te bou deur surplus-tee in beter jare te koop. Dievoorraad word in die mark verkoop wanneer daar tekorte is, ten einde die wisseling in aanbod te verminder.
Só kon in die laaste drie jaar se tekorte voorsien word uit reserwes wat in goeie jare opgebou is.
Produsentepryse is regstreeks aan gehalte gekoppel en 'n streng gehaltebeheerstelsel word gevolg. Die gemiddelde produsenteprys wissel nou van R9/kg tot R11/kg. Dit is 'n uitstekende prys as in ag geneem word dat die gemiddelde produsenteprys verlede jaar sowat R6,60/kg was en in 2000 net R5,50/kg.
Mnr. Bergh sê die beste markinligting moontlik word aan produsente deurgegee. Tans gaan dit, wat prys betref, goed met rooibosteeprodusente. As die vraag en aanbod mekaar na verwagting weer teen volgende jaar gaan uitbalanseer, kan dit egter gebeur dat die prys daal.
Geding nog nie opgelos nie
Almal weet nou al dat me. Annique Theron se maatskappy, Forever Young, in 1993 die naam "Rooibos" as 'n handelsnaam in Amerika geregistreer het. Niemand het aanvanklik daarvan geweet nie, en nadat die destydse Rooibosteeraad geprivatiseer en Rooibos Beperk tot stand gekom het, het die direksie besluit om hul logo te laat registreer, tesame met die skryfstyl van dienaam.
Die naam "rooibos" is 'n generiese naam wat almal gebruik, en dit is só aanvaar. Daarom is op alle internasionale markte waar sake gedoen word, aansoek gedoen om dielogo en die skryfstyl daarvan. 'n Onteieningsklousule is vervat vir die woord "rooibos".
Skielik het Forever Young se registrasie van rooibos op markte in verskillende lande opgeduik, en daaroor moes onderhandel word. Dit was 'n lang proses, maar in die meeste lande is 'n bevredigende oplossing daarvoor gevind.
In Amerika was dit egter 'n ander storie. Daar kon nie met onderhandelinge verder as die registrasie van die naam gevorder word nie, en in 1996 het Rooibos Beperk aansoek gedoen om die skrapping van die handelsmerk. Dít is egter 'n lang en baie duur proses - nie net vir Rooibos Beperk nie, maar ook vir die destydse opposisie, naamlik Forever Young van me. Theron.
Die onderhandelingsproses het vier jaar geduur. In 2001 is egter skielik 'n skrywe ontvang waarin gesê is dat Forever Young nie verder kan onderhandel nie, omdat die naam oorgedra is na Burke International - 'n Amerikaanse verspreider.
Rooibos Beperk het hul uiterste misnoeë hieroor aan Forever Young en Burke International oorgedra, omdat dit midde-in 'n onderhandelingsproses gebeur het. Diemisnoeë is verwerp, en Rooibos Beperk het die saak by die Amerikaanse patentekantoor heropen. En dit is waar die proses nou staan.
Die taak is nou om aan die Amerikaners te bewys dat rooibos 'n algemene naam is, sê mnr. Bergh.
"Alle feite is in ons guns. Die geding moet twee belangrike aspekte toets. Die eerste aspek is dievan "prior usage". Van 1960 af al word rooibostee na Amerika uitgevoer - as "rooibostee". Die tweede aspek is dat 'n naam - wat algemeen gebruik word in die land van sy herkoms en in die taal wat daar gebruik word (Afrikaans in diegeval) - nie geregistreer kan word nie. Só kan die woord "lemoen" byvoorbeeld nie geregistreer word nie, al is dit die Afrikaanse woord vir "orange" en al weet Amerikaners nie dat "lemoen" niks anders as 'n "orange" is nie.
Uitgerekte saak
Mnr. Bergh sê die Amerikaanse patentekantoor se verweer is dat die internet - waarop sulke inligting nagegaan kon word - nog nie in 1993 beskikbaar was nie. Hulle het net die aansoek gehad, en dieaansoek het aangedui dat rooibos die Afrikaanse woord vir "Red Bush" is. Daar is nie op die aansoek gemeld dat daar 'n tee in Suid-Afrika bestaan wat in die volksmond bekend staan as rooibos - 'n verbruiksnaam - nie.
As dít gemeld is, sou die registrasie nooit plaasgevind het nie, sê hulle.
Die Amerikaners huldig die standpunt dat hulle destyds hul bes gedoen het, en dat die weg nou oop is vir enigiemand om aansoek te doen om dit te verwerp.
Die hofsaak is nou aan die gang, maar dit gaan Rooibos Beperk minstens R2 miljoen kos, sê mnr. Bergh. Dit kan 'n lang, uitgerekte saak wees wat minstens twee jaar kan duur.
As die uitspraak teen Rooibos Beperk gegee word, sal dit beteken dat niemand, behalwe Burke International, die woord "rooibos" in Amerika kan gebruik nie.
Dit sal egter ook op internasionale vlak 'n uitwerking hê, want die Duitsers, Hollanders, Japannese en ander volke noem die produk rooibos (al sê hulle "looiboth"). Die Amerikaners noem dit ook rooibos, maar baie van die handelsname is egter iets soos Red Tea.
Met hofsake kan niks as vanselfsprekend aanvaar word nie, maar daar is 'n 99 % kans dat die uitspraak ten gunste van Rooibos Beperk sal wees, meen mnr. Bergh.
Ironies genoeg het 'n Amerikaanse instansie, US Aid, 'n hulpprogram, ASNAP (sustainable natural agricultural products), 'n ruk gelede bekend gestel. Dit finansier sekere projekte, en hieronder tel 'n projek wat met die samewerking van boere van die distrik Wuppertal bedryf word. Die doel daarvan is om Wuppertal Rooibos as 'n handelsnaam te vestig. Geld is aan dieboere geskenk, en Wuppertal Rooibos is al op skoue in Amerika vertoon.
Die aanvanklike nuusberig het eintlik gehandel oor die sukses van die ASNAP-program en die agtergeblewe boere in Wuppertal wat gehelp word. Toe volg die dreigement van me. Burke egter skielik dat alle rooibostee-uitvoer na Amerika gekeer gaan word. Mnr. John Mann, van Kaapstad, vervaardig kosmetiese produkte wat direk meeding met me. Theron se velsorgprodukte. Mnr. Mann se agent in Amerika word toe deur Burke International gedreig dat uitvoer gestaak sal word. Dít het mnr. Mann laat besluit om 'n koerant te nader, en van daar af het die storie uitgekring. 25 Oktober 2002