
SAB wil uiteindelik nét Suid-Afrikaanse moutgars vir sy vermoutingsaanlegte koop, het mnr. Thinus van Schoor, hoofbestuurder van SAB se vermoutingsaanleg op Caledon (SABM), Saterdagaand in Kaapstad gesê.
Dit sal beteken dat garsproduksie in die besproeiingsgebiede vanjaar moet verdubbel en kultivars met die gesogte HFM-eienskappe vir verbouing in die droëlandgebiede beskikbaar moet wees. "Ons doelwit is om die 83% van ons behoeftes wat ons nou plaaslik koop, op te vat na 100% plaaslike aankope. As ons die regte kultivars kry, kan ons alle gars hier produseer, wat beteken dat ons 372 000 ton gars plaaslik gaan aankoop."
Die grootste deel van die garsaanbod, naamlik 189 000 ton, het verlede jaar uit die droëlandgebied gekom. Volgens voorlopige innameprojeksies wat in Februarie op 'n boeredag buite Caledon bekendgemaak is, sal die volumes gars wat by boere in die droëlandgebied gekoop sal word, nie so drasties toeneem soos in die besproeiingsgebiede waar daar 'n verdubbeling in produksie beplan word nie.
Uitdaging
Van Schoor het gesê die hoeveelhede moutgars wat in die besproeiingsgebiede verbou word, sal voortaan bepaal hoeveel moutgars in die droëlandgebiede gekoop sal word. "Ons gebruik jaarliks omtrent 300 000 ton mout. 'n Derde daarvan moet hoë fermenteerbare (HFM) mout wees vir spesifieke bierresepte, soos Black Label. Ons het 100 000 ton HFM gars nodig. Dís ons uitdaging in Suid-Afrika."
Hoewel Suid-Afrikaanse landboutoestande nie natuurlik geskik is vir die produksie van gars wat HFM kan lewer nie, het wetenskaplikes by Sabbi (Suid-Afrikaanse instituut vir garsteling) dit reggekry om 'n HFM-kultivar, Marthe, vir die besproeiingsgebiede te teel. Die eksperimentele kultivars, S9 en S12, toon groot belofte vir die droëlandgebiede, maar word nou aan streng vermoutings- en broutoetse onderwerp.
Van Schoor het verder gesê dat die vermoutingsaanleg op Caledon ook uniek geposisioneer is vir uitvoere na Namibië en ander Afrika-lande.