Suid-Afrikaanse grondbone was nog altyd wêreldwyd bekend vir die hoë gehalte daarvan. Dít kan toegeskryf word aan goeie landboupraktyke, goeie en aanpasbare kultivars, stadige droging van die oes in hopies, sowel as die feit dat die pitte met die hand uitgesoek word.
Grondboonboere het deur die jare 0,8 ton/ha tot 2,5 ton/ha op droëland en tot 6 ton/ha onder besproeiing met Suid-Afrikaanse kultivars behaal. Diewisseling in opbrengs is weens verskillende landboupraktyke, kunsmistoediening, kultivarkeuse en plaagbestryding.
Sommige boere dink egter nou Suid-Afrikaanse kultivars is minderwaardig teenoor kultivars uit ander lande, veral Amerika en China, want hulle het gehoor van opbrengste van tot 10 ton/ha met daardie kultivars.
As die saak in diepte ondersoek word, kan begin word met 'n storie uit Zimbabwe. Zimbabwe het jare lank die wêreldrekord vir die hoogste grondboonopbrengs per hektaar gehou - sowat 11,5 ton/ha. Hierdie opbrengs is behaal met hul huidige grondboonkultivars, naamlik Flamingo en Falcon, wat deel van Suid-Afrika se kiemplasmaversameling uitmaak.
Diehoë opbrengs van 11,5 ton/ha is onder baie spesifieke toestande verkry. Baie boere in Suid-Afrika het intussen probeer om Flamingo en Falcon te verbou, maar sonder welslae.
Dit is ook die geval met Chinese kultivars. Met 'n besoek aan China in 2001 het ek aanplantings gesien met opbrengste van 7,5 ton/ha. Dit klink baie indrukwekkend - totdat 'n mens die verbouingspraktyke in ag neem.
Eerstens plant die Chinese hul grondbone onder 'n baie dun laag plastiek, wat die insekplae en onkruid bekamp en vog in die grond behoue laat bly. Die lande is ook baie kleiner en makliker om te hanteer as in Suid-Afrika. Arbeid is nie 'n probleem in China nie, wat nie van Suid-Afrika gesê kan word nie. Boonop het die Chinese wel hoë opbrengste, maar die pitte se gehalte laat veel te wense oor as dit met Suid-Afrikaanse kultivars vergelyk word.
Amerika se situasie is baie dieselfde as die Chinese s'n. In Amerika verbou die boere meestal ranksoorte, wat vanselfsprekend meer lewer as die Spaanse soorte wat in Suid-Afrika geplant word. Die verbouing van grondbone in Amerika is ook hoogs gemeganiseerd en daardie boere het nie probleme met arbeid nie. Hulle het groot meganiese uithalers en droërs, en die grondbone word nie in hopies gepak om droog te word soos in Suid-Afrika nie.
Grondbone word hoofsaaklik in die state Texas, Georgia, Florida en Noord- en Suid-Carolina verbou, 50 meter tot 200 meter bo seevlak. Hul kultivars is daarvolgens aangepas en geteel. Die distrikte Hoopstad, Wesselsbron en Bultfontein is sowat 1 000 meter bo seevlak, en die Suid-Afrikaanse kultivars is dienooreenkomstig aangepas.
Boere wat vreemde saad wil invoer, moet deeglik bewus wees van die gevare wat daarmee gepaardgaan. Nuwe peste en plae kan die saad baie maklik vergesel. In Amerika is 'n peulvrotswam, Cylindrocladium-swartvrot, wat die grondboonbedryf in Suid-Afrika kan lamlê, soos wat in die laat 1970's op Vaalharts met swart peulvrot gebeur het.
Daar moet ook onthou word dat die opbrengste waarmee die vreemde kultivars spog, nie gemiddelde opbrengste is nie. Soos ook maar hier gebeur, praat die mense dikwels net van die hoogste opbrengste.
Suid-Afrikaanse grondboonnavorsing is op die regte pad en die LNR-IGG dra die bedryf se belange op die hart. Daar word geglo dat die plaaslike grondbone steeds die beste in die wêreld is. Dít is die rede hoekom Suid-Afrikaanse kultivars die beste keuse vir die produsent is.
Die grondboonbedryf word al baie jare getrou deur die navorsingspan van die LNR-IGG op Potchefstroom gesteun, wat ook die land se enigste versameling grondboon-kiemplasma onderhou.
Dr. AndreCilliers is 'n senior landbounavorser by
die LNR se Instituut vir Graangewasse (IGG), Potchefstroom. Lesers met navrae
kan met dr. Cilliers in verbinding tree by Private Sak X1251, Potchefstroom
2520, tel. 018 299 6308; faks 018 297 6572; sel 083 324 3156, of per e-pos by andre_c@OPS1.AGRIC.ZA
4 April
2003