
Suid-Afrika se eerste nuwe biotegnologie vir sojabone in 20 jaar is einde Februarie in Fourways, Johannesburg, bekend gestel. Bayer se Intacta RR2 Pro is slegs die tweede geneties gemodifiseerde (GM) sojaboonsaad wat vir produksie in Suid-Afrika goedgekeur is.
Intacta RR2 Pro is ontwikkel om beter beskerming te bied teen ’n aantal sojaboonplae, soos Helicoverpa armigera (Afrika-bolwurm). Dit beskik oor ’n sterk glifosaatverdraagsaamheid vir onkruid-bekamping. Dit kan die eienskap vir onkruiddoder-verdraagsaamheid op die DNS van die plant herposisioneer, wat opbrengste kan verhoog.
Volgens mnr. Leonard Oberholzer, markontwikkelingshoof van Bayer Suid-Afrika, is die eerste proewe van Intacta RR2 Pro reeds in 2017 geplant en daarna uitgebrei.
“Die eerste beskikbare saad van die nuwe tegnologie sal in die 2022-’23-seisoen beskikbaar gestel word. Ek is seker daarvan ons sal die impak daarvan binne die volgende jaar of twee sien.”
Mylpaal
Dr. Klaus Eckstein, hoofbestuurder van Bayer Suid-Afrika en afdelingshoof vir Bayer Crop Science Suider-Afrika, het dit as ’n groot mylpaal vir die maatskappy bestempel. “Bayer het deur sy produkte al gehelp om kwessies soos Sclerotinia, nematodes en produktiwiteit aan te pak. Hierdie produk gaan aansienlike stukrag verleen om tot die winsgewendheid van ons sojaboonboere by te dra.”
Dit is ook ’n tasbare voordeel van die statutêre heffing op sojaboonsaad wat drie jaar gelede ingestel is. Volgens Bayer kan Intacta RR2 Pro produksie met tot 20% verhoog.
Mnr. Rohan Claassens, bemarkingshoof vir graan- en bedryfsgewasse van Bayer Suid-Afrika, het gesê Intacta RR2 Pro se voordeelaanbod berus op drie aspekte, naamlik beskerming, optimalisering en verbetering.
Oor beskerming het Claassens gesê die nuwe Intacta-geen bied beter beskerming teen bolwurm. Dit beteken dat sekondêre besmetting weens vreetskade beperk en opbrengste dus verbeter word. Ter-selfdertyd word die teenwoordigheid van voordelige insekte bevorder omdat minder insekdoders gespuit hoef te word.