
Die skenking is moontlik gemaak deur samewerking tussen die departement van wetenskap en innovasie se vennootskapprogram vir bio-ekonomiese innovasie in die landbou. Die departement het dié program ontwikkel om vennootskapsprogramme vir ’n meer mededingende en volhoubare landbou bio-ekonomie daar te stel.
Die program word deur die agentskap vir tegnologiese innovasie toegepas. Die departement en die agentskap het die finansiering aan Katoen SA verskaf om die katoenbalers te koop. Danksy die balers hoef gemeenskappe nie meer katoen met die hand te baal nie, wat hulle stroop- en vervoerkoste sal bespaar.
Kleinboere lewer katoen gewoonlik in wolsakke aan pluismeulens gelewer. Omdat hierdie pluismeulens moderne verwerkingsmasjinerie gebruik wat vir ronde bale gekalibreer is, ontstaan daar bykomende koste om kleiner boere se oeste te verwerk. Met die nuwe kompakte, ronde bale kan meer saadkatoen op vragmotors gelaai word en kan boere sowat 73 sent/kg meer vir hul saadkatoen kry.
Mnr. Frans Malela, ’n plaaslike katoenboer en vise-voorsitter van Swara o Tiise Molemi Agricultural Co-operative, is ook ’n streeksverteenwoordiger op Katoen SA se forum vir klein katoenboere. Hy sê die innoverende tegnologie gaan ’n groot verskil maak.
“Die meganiese baal van saadkatoen bespaar tyd en geld. Ons het ook nie meer nodig om wolsakke aan te koop nie en bespaar op die hanteringstarief by die katoenaanleg. Die katoenbaler draai die bale ook vinniger toe as wat ons katoen in die sakke kon pak.”
Mnr. Tertius Schoeman, bestuurder vir transformasie en ontwikkeling by Katoen SA, sê voorlopige navorsing bewys dat as kleinboere katoen in ronde bale lewer, kan die besparing tot R605/ha wees. “Katoen SA se strategiese plan vir klein katoenboere beoog om klein, swart boere se deelname in die nasionale katoenoes teen 2030 tot 20% te verhoog."
Schoeman meen dat die balers meer as 880 boere by Nkomazi en 186 boere by Matlerekeng sal bevoordeel.