
’n Boer van Moorreesburg sê hy het die boeredag op die Langgewens-navorsingsplaas bygewoon om nuwe kontantpeulgewaskultivars vir kekerertjies, fababone, ertjies en lupiene te sien. In dié stadium kan hulle medics, lupiene en erte verbou.
’n Groter peulgewaskeuse kan vir boere geleenthede bied om nie net ’n inkomste daaruit te verdien nie, maar ook minder stikstof toe te dien en onkruidbestryding met goedkoper middels te doen.
“Dis nie altyd so maklik om met medics waarde te ontsluit nie, jy moet intensief met skape ook boer. Ons moet dalk op ’n hoër vlak, soos by Graan SA, meer aandag daaraan gee om sulke gewasse te bekom.”
Mnr. Dirk Lesch van die plaas Elim by Malmesbury sê hy het die dag bygewoon om die fababoon- en erteproewe te besigtig. “Ek wil fababone vir die mensmark plant.”
Lesch boer net met kontantgewasse en stel belang om meer alternatiewe in daardie opsig te sien.
Goeie toonvenster
Mnr. Gert Claassen van Claassen Boerdery by Malmesbury sê Skog is altyd ’n goeie toonvenster van wat in die bedryf aangaan en waarheen navorsing op pad is. Die dag verskaf inligting wat boere help om beter besluite te neem.
“Dit was ’n samekoms van die tradisionele ten opsigte van bemestingsriglyne, aanpassings op plantdigthede en swamproewe wat oor die jare kom, en ook die gebruik van hommeltuie wat bygekom het en wys dat vernuwing plaasvind.
“Ek hou van die feit dat daar nuwe saadmaatskappye is, en dat daar nuwe kultivars op die mark kan kom van die ou bekendes soos Syngenta, maar ook nuwe kultivars by kanola. Vir ons is nuwe kultivars die gereedskap om ons opbrengste te bevorder, soos wat ons by die mieliebedryf sien.”
Hy meen daar moet nog baie werk gedoen word ten opsigte van onkruidbestuur, hoe wisselboustelsels bestuur kan word om onkruid te bekamp en grondgesondheid te bevorder, en waar alternatiewe in boerderystelsels inpas.
“Daar is nog baie werk wat gedoen moet word ten opsigte van alternatiewe gewasse en die rol wat dit speel in ’n wisselboustelsel met kontantgewasse. Ons sal dit met valkoë dophou om ’n balans te kry tussen grondgesondheid, winsgewendheid en die oorlewing van ons boerderye op lang termyn.”
Kontak met boerekliënte
Verteenwoordigers van landboumaatskappye wat hul kultivars en produkte op die Skogdag ten toon gestel het, vind ook baat by die dag.
Mnr. Driecus Lesch, Wes-Kaapse koringteler by Syngenta, sê die maatskappy beskou Skog as een van die belangrike inligtingsdae in die Swartland.
“Dis ’n geleentheid om regstreekse kontak met boere te hê om ons graankultivars en landbouchemiese produkte aan hulle bekend te stel. Dis ook ’n manier om hulle bewus te maak van nuwe kultivars of produkte wat die afgelope tyd bekend gestel is en binnekort beskikbaar gaan wees.”
Die Skogdag op die Langgewens-navorsingsplaas is ’n geleentheid om verskille tussen hul kultivars te demonstreer en ook die interaksie wat die kultivars met landbouchemiese middels het.
“Skog bied ook aan produsente die geleentheid om hul vrae en bekommernisse op ’n persoonlike basis met ons te bespreek. Ons kry ook terugvoer en voorstelle tydens die dag wat ons die volgende jaar byvoeg om dit interessanter te maak.”