
Mnr. David Wayne, die uitvoerende direkteur van SA Canegrowers, die suiker-produsenteorganisasie, is optimisties vir die seisoen wat voorlê. “Die toename in suikerrietproduksie die afgelope seisoen bevestig dat ons produsente in ’n herstelfase is en as die weer dit vanjaar toelaat, kan ons naby aan die 2,1 miljoen ton suikerriet vanjaar produseer,” aldus Wayne.
Dit is langverwagte goeie nuus vir die bedryf. “Die afgelope paar seisoene was ongelooflik moeilik vir suikerrietprodusente wat geldelik baie swaar gekry het te danke aan insetkoste wat aanhoudend gestyg het en ongunstige produksie-omstandighede,” verduidelik Wayne.
Die afgelope seisoen se gunstige weersomstandighede het ’n produksietoename van 16% teenoor die 2012/13-seisoen opgelewer en ’n totaal van 20,033 miljoen ton is geoes. Die finale herwinbare waarde prys wat aan boere uitbetaal is, is deur Canegrowers op R3 116,66 per ton beraam. Dit is ’n 2% laer verdienste per ton as die vorige jaar, maar die verhoogde produksie het steeds ’n algehele toename van 16% in totale verdienste van die bedryf beteken en het ’n bydrae van R7 miljard tot die land se ekonomie tot gevolg gehad.
Die noordkus van KwaZulu-Natal het ’n ongekende droë Januarie en Februarie beleef en daardie streek se produksie gaan dus heel moontlik negatief beïnvloed word, meen Wayne. Die 2014/15 oes- en verwerkingseisoen behoort in April te begin.
Moontlike verhoogde invoertarief
Buiten die goeie vooruitsigte vir die komende produksieseisoen, word ’n amptelike aankondiging deur minister Rob Davies van die Departement van Handel en Nywerheid ook verwag. Itac (Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie) het vroeër vandeesmaand ’n tans onbekende voorstel vir invoerbeskerming van die suikerbedryf aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vir goedkeuring oorhandig. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Suikervereniging verlede jaar ’n aansoek om beskerming van die bedryf teen goedkoop invoere aan Itac gerig het.