
Mnr. Kipper (Kip) Cullers is die Amerikaanse boer wat die wêreld se opbrengsrekord van 10,8 ton sojabone per hektaar hou.
Cullers (50) boer in Purdy in die suidweste van die Amerikaanse staat Missouri. Hy het onlangs deelgeneem aan boeredae in die somersaaidele van Suid-Afrika. Cullers en nog ’n Amerikaner, mnr. David Hula, die wêreldrekordhouer vir die verbouing van mielies, het op uitnodiging van DuPont Pioneer, John Deere en BASF hul kennis en wenke aan Suid-Afrikaanse boere oorgedra.
Cullers se rekordopbrengs (10,8 ton/ha) is met Pioneer se kultivar 94Y71 opgestel. Dit is verdraagsaam vir Roundup-onkruiddoder en bied weerstand teen aalwurms. Cullers was al dikwels die Amerikaanse kampioen vir die hoogste opbrengs by mielies onder besproeiing en spog met 23,37 ton/ha.
“Sojabone is eintlik ’n vervelige gewas. Dit laat jou nie in die steek nie. Ek het ses weke om foute te maak en dit weer reg te stel. Sojabone verras my telkens,” het Cullers vertel. Hy erken hy weet nie alles nie, al is hy die sojaboon-wêreldrekordhouer. “Ek het ook nie gekom om julle te vertel hoe julle moet boer nie, want jul toestande is anders as waar ek in Amerika boer,” het hy gesê. Maar hy het tog nuttige wenke vir plaaslike boere.
Behandel saad
Die sade moet vooraf behandel word, soos om dit te ent. Dit verhoog die kans op sukses dramaties. Cullers verkies ’n nat behandeling (vloeibare swamdoder) “anders mors jy jou geld”. Die saad is delikaat en die boer moet seker maak dit word nie beskadig nie. “Hanteer dit net so versigtig soos ’n mandjie eiers.”
Plant vroeg
Cullers plant sy sojabone vroeg in die seisoen, want hoe later hy plant, hoe kleiner sal die oes wees. Die plant van die saad is die belangrikste stap in die verbouing van die gewas. Hy plant die saad ’n vingerdikte diep (en mielies twee vingerdiktes diep). Al die sojaboonsade moet binne 24 uur opkom, want dan is die res van die proses tot wanneer die oes ingesamel word – soos om onkruid doeltreffend te bekamp – baie makliker. Dit is hoekom saadbehandeling, plantdiepte en genoeg grondvog so belangrik is.
Onkruid- en siektebestryding
Onkruidbestryding moet van die begin af gedoen word. Alle onkruide moet vroeg uitgeskakel word sodat dit nie met die sojabone om spasie, water en voedingstowwe meeding nie. “As jy toelaat dat onkruide 30 cm hoog word, het jy klaar die stryd verloor, want dan is jy ’n deel van jou oes kwyt.”
Naas ’n egalige, goeie stand wil ’n boer hê die sojabone moet goed groei. Dit moet egter nie te hoog groei nie, anders kan die plante omval. Cullers het ’n foto van ’n sojaboonland gewys waar die sojabone skouerhoogte groei. Nogtans is hoë plante verkieslik bo plante wat swak groei en dan nie genoeg blare het om ’n goeie oes te verseker nie. Bekamp siektes goed, veral roes. Cullers bestry roes by sy sojabone met ’n biologiese middel. Swamdoder kan tydens die ent van die saad bygevoeg word.
Groei is alles
Al is sojabone ’n peulplantgewas wat stikstof vervaardig, moet die boer stikstofkunsmis toedien as hy na ’n hoë opbrengs mik. Die hoeveelheid hang van die opbrengsmikpunt af. Die bone moet nooit watergebrek ly nie. As dit nie genoeg reën nie, dien Cullers tussendeur besproeiing toe om stres te voorkom. Hy doen oorhoofse besproeiing, maar eksperimenteer tans met drupbesproeiing.
Alle boerderymetodes moet die sojabone laat aanhou groei. Dit moet nooit ophou nie, anders benadeel dit die opbrengs. Dit is dan nodig om met oestyd die plante eers met ’n chemiese middel te ontblaar. As die plante voor die tyd begin doodgaan, beteken dit iets maak dit dood, soos insekte of siektes. “Ondersoek jou gewasse gereeld. Klim uit jou bakkie en stap in die landerye rond. Dan sal jy dadelik agterkom as daar fout is. Plante is soos mense. As hulle nie lekker voel nie, presteer hulle nie goed nie. Skakel dus alles uit wat stres kan veroorsaak,” was sy raad.
Cullers verkies kultivars met groot sade wat noodwendig tot groot oeste lei. Sy laaste stukkie raad: Enigiets is moontlik as jy hard werk en “buite die kassie dink”.