Die plan vir baie boere is om in die komende winter koring te plant, veral op die watertafellande van die Sentraal- en Noordwes-Vrystaat, om die vog in die grond “op te vang”. Sommige boere praat van “vanglande”, sê mnr. Danie Minnaar, boer van Bothaville.
“Dit is lande waar boere weens versuiping in die somer glad nie kon plant nie. Die grond is doodeenvoudig oorversadig van die vog. Nou plant hulle koring om van die vog ontslae te raak, anders lê die lande dalk nog ’n somerseisoen braak.” Minnaar sê die langtermyngemiddelde reënval vir die afgelope 80 jaar op sy plaas is 520 mm.
“Ons staan nou op 1 135 mm sedert 1 September. Dit is meer as dubbeld soveel as die gemiddelde. Dit is regtig moeilik om vanjaar te stroop of koring te plant by ons.”