
Nadat dit die eerste keer in 2019 in die distrikte Standerton en Leandra in Mpumalanga aangemeld is, het daaropvolgende navorsing bevind dat die plaag suidwaarts in ’n wye strook versprei het tot in die distrikte Bergville en Winterton in KwaZulu-Natal.
Prof. Johnnie van den Berg, bestuurder van die geïntegreerde plaagbestuurprogram aan die Noordwes-Universiteit, lei navorsing oor hierdie plaag wat sedertdien die sojaboorder (Fulcrifera sp.) genoem is en as ’n inheemse spesie in Suid-Afrika geïdentifiseer is.
Geen inligting rakende ander gasheerplante van hierdie plaag is bekend nie en daar word vermoed dat dit vanaf ’n ander inheemse peulplantspesie na sojabone oorgeskakel het.
Van den Berg sê ekonomies belangrike besmettings (50%) is tot dusver net by Standerton en Leandra gevind. Besmettings in die ander gebiede waar hierdie sojaboorder opgemerk is, was teen besonder lae vlakke (<0,000001%).
“Dit is tans nie ekonomies lonend om die plaag met chemiese middels te bekamp nie aangesien die besmettingsvlakke in ander gebiede uiters laag is. Deeglike opnames van die besmettingvlak moet gedoen word voordat ’n chemiese bespuiting oorweeg word.”
Sy navorsing het bevind larwes van hierdie sojaboorder voed aanvanklik in die klein blaartjies by die groeipunt van die plant waarna dit by die oksel van ’n jong blaar inboor en dan in die stammetjie afboor. Die eerste waarneembare simptome is die voorkoms van een of twee verwelkte blare naby die plant se groeipunt. Dit is ook waargeneem dat larwes soms die jong ontwikkelende peule binnedring waar daar dan direkte skade aangerig word.
Van den Berg beskryf die mot van die sojaboorder as ongeveer 7 mm lank en donkergrys van kleur. Die eiers daarvan is geel van kleur, word op die stammetjies en blare van die jongroei van die plant gelê en kan slegs met ‘n vergrootglas waargeneem word.
Hy sê die larwes van hierdie plaag is aanvanklik liggroen van kleur, maar kan donkerder en selfs ’n helder rooi word namate dit die larvale fase voltooi. Die uitgegroeide larf is ongeveer 10 mm lank.\“Larwes pupeer in die dro? blaartjies van die groeipunte en kan soms ook in die grond pupeer. Die lewensiklus van larwes is in die somer ongeveer 15 tot 21 dae. Die totale lewensiklus vandat die eiers gelê is totdat ’n mot weer uit ’n papie te voorskyn kom, is ongeveer 30 dae.”
Kontak Van den Berg by Johnnie.VanDenBerg@nwu.ac.za vir nog inligting oor die sojaboorderplaag.