
Normaalweg is boerdery op die vlakte nie maklik nie, sê mnr. Willem Groothof, Graan SA se hoofbestuurslid vir Limpopo.
Groothof boer self naby Settlers op dié plat strook aarde wat vanaf die Pienaarsrivier vir 130 km in ’n noordoostelike rigting strek en geken word aan warm somers en droë winters. Met ’n gemiddelde reënval van omtrent 600 mm per jaar moet boere in hierdie gebied konserwatief bly in hul aanplantingsbesluite en twee keer dink voor hulle goeie oesjare se winste bestee, sê Groothof.
Dit is egter die vrugbare swart turfgrond van die Springbokvlakte wat boere se somme vanjaar kan help klop. “In ’n jaar soos hierdie waar kunsmispryse saam met ander insette net te hoog is, kan vlakteboere wegkom sonder om te bemes danksy die vrugbaarheid van ons turfgrond.”
‘Ons moenie ons grond myn nie’
In dieselfde asem noem hy dat die keuse om minder of glad nie te bemes nie eerder die uitsondering as die reël moet wees. “Ons moenie ons grond myn nie. Ek weet daar is boere op die vlakte wat jare lank plant sonder om te bemes en op sulke plase neem opbrengste al ’n lang tyd af. Dit is egter die boere wat na hul grond omsien en elke jaar die voedingstowwe en minerale terugsit wat hulle plante gebruik, wat met gemak steeds ’n goeie oes kan kry sonder om in ’n moeilike jaar soos vanjaar te bemes.”
Die goeie reën wat gedurende April op die vlakte uitgesak het, het ook gesorg dat die grondprofiel vol water is en die swaar klei is bekend om sy vermoë om vog te hou. Groothof sê met minimale opvolgreën vroeg in die somer kan boere met vrymoedigheid in November begin plant. “Dinge lyk regtig belowend vir die volgende seisoen. Ons het die afgelope reënseisoen al 800 mm reën gehad.”
Hy sê hoewel die Springbokvlakte Limpopo se grootste graanproduksiegebied is, is dit te klein om ’n strategiese rol in Suid-Afrika se graanreserwes te speel. Boere op die vlakte se vermoë om vanjaar met min of geen kunsmis oor die weg te kom, kan dus nie ’n noemenswaardige impak op die nasionale mielie-oes hê nie.
Hy raai boere aan om aan te hou plant wat hulle beoog het. Daar word jaarliks gemiddeld 110 000 ha sonneblom en 18 000 ha sorghum op die Springbokvlakte geplant, asook ’n redelike hoeveelheid katoen, sojabone, grondbone en ’n bietjie mielies. Daar word ook sitrus en kontantgewasse onder besproeiing verbou.