Pogings sedert 2018 om die graderingsregulasies vir mielies aangepas te kry om dubbelsinnigheid in veral die definisies te verminder, val steeds vas. Selfs pogings om ’n tydelike dispensasie in werking te kry vir die huidige bemarkingseisoen, wat 1 Mei vanjaar begin het, het misluk.
Mnr. Corné Louw, hoof van toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, sê toe dit aan die begin van die jaar duidelik geword het die nuwe regulasies, waaroor binne die bedryf konsensus bereik is, gaan nie betyds vir die bemarkingsjaar afgekondig word nie, is daar vir die tydelike dispensasie aansoek gedoen. Dit was goedgekeur, maar ’n week later weens besware terug getrek.
“Sedertdien het niks wesenliks gebeur nie en ons wag steeds dat die voorgestelde graderingsregulasies afgekondig word omdat die mielieforum besluit het die normale aansoek moet voortgaan, al is die tydelike dispensasie onttrek. Dan sal daar seker binne die forum weer gesprek daaroor gevoer word.”