
Opbrengste wissel van swak, weens die reënskade, tot rekordoeste op plekke.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, het verlede week gesê ná weke se baie reën lyk dit of dit begin opklaar en dat dit na verwagting meer sonnig vir die res van Mei sal wees. Dit sal meer gunstige omstandighede vir die stroopproses in baie dele skep en die proses verhaas waar gestroop kan word.
“Teen 20 Mei sal daar waarskynlik ’n bietjie van ’n afname in graanboere se bedrywighede wees wanneer baie van hulle die Nampo-oesdag, wat twee jaar nie aangebied kon word nie, sal bywoon. Daarna sal die proses weer spoed optel.”
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, sê in dele van Noordwes is dit nog baie nat en stropers val vas, maar baie van die vroeë sonneblomme is al gestroop. “In dele van Sannieshof het Sclerotinia skade veroorsaak en die opbrengste was swak, maar hier in ons deel van die distrik na Mareetsane se kant toe was daar geen skade nie en die opbrengste was goed. Dit wissel dus baie.
“Die mieliestropery is nog ’n entjie weg in ons deel van Noordwes en daar is kommer oor skade weens die nat omstandighede en dat ’n groter persentasie mielies as ’n swakker graad geklas sal word. Grondbone het ook skade en kan nie meganies geoes word nie omdat die stingeltjies swak is. Dit word met die hand geoes om skade te beperk.”
Hy sê by Schweizer-Reneke is boere druk besig om sojabone te stroop en daar is opbrengste besonder goed. “Hulle praat van rekordopbrengste ondanks die reënskade vroeër in die seisoen.”
Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê dit wil voorkom of daar ook baie goeie sojaboonoeste in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat is. “Die stroopproses is voluit aan die gang en dit lyk of sojabone die baie reën goed deurstaan het. Die oes sal waarskynlik teen einde Mei klaar gestroop wees. Die goeie oeste sal waarskynlik daartoe lei dat meer sojabone later vanjaar geplant word.”
Hy sê in teenstelling daarmee word sonneblom nog net plek-plek gestroop en die oesproses sal waarskynlik nog tot in Julie voortduur. “Mieliestropery is nog nie op groot skaal aan die gang nie. Daar word in sekere distrikte al van die vroeë aanplantings gestroop. Die terugvoer wat ons kry, is dat daar wel gehalteprobleme ondervind word en baie tweede- en derdegraadse witmielies gestroop word. Dit lyk egter ook of die latere aanplantings se gehalte beter sal wees.
“Die verwagting is dat die meeste boere ná die Nampo-week sterk aan die gang sal kom om mielies te stroop en dan sal ons ’n beter idee kry van opbrengste. Daar is op die oomblik net te min gestroop.”