
Daardie raaiselagtige sirkels sonder ’n sweempie plantegroei wat dikwels in grasvlaktes hier in Afrika aangetref word – en dikwels feësirkels genoem word – is nie die werk van termiete soos dikwels geglo word nie.
Daar is trouens ’n oorvloed van teorieë oor hierdie sirkels, wat net ’n paar meter tot 20 meter in deursnee strek. Boonop word welige plantegroei aan die buitenste rande aangetref.
Van die teorieë sluit in termiete wat die wortels van die gras afpeusel sodat die plantegroei terugvrek, tot koolwaterstofgasse wat soos skoorsteenrook uit die dieptes van die aarde verrys. En hoewel wetenskaplikes al dekades lank hieroor kopkrap, bly dit steeds onopgelos, want tot nou toe kon niemand ooit verklaar hoe so ’n sirkel tot stand kom nie.
Maar navorsers aan die Helmholtz-navorsingsentrum in Leipzig, Duitsland, meen dat hulle nou die antwoord het en die oorsaak is baie meer aardsgebonde as enige van die teorieë: plantegroei se plaaslike wedywering om voedingstowwe.
Stephan Getzin, ’n navorser wat die sirkels al 15 jaar lank bestudeer, het met die antwoord vorendag gekom nadat hy ’n totaal ongekende, nuwe aanslag aangepak het. Sy resultate, wat in die Ecography-vaktydskrif gepubliseer is, berus op die evaluering van lugfoto’s van gebiede in die noordweste van Namibië waar die sirkels voorkom.
Lugfoto's
Deur die foto’s te gebruik, het hy vir die eerste keer die presiese ruimtelike ligging en verspreiding van die sirkels binne die omringende landskap ontleed. En volgens Getzin is daar nie een enkele bewys wat die gewilde siening steun dat termiete in staat is om egalige strukture op so ’n groot skaal te help skep nie. Hy sê dis ook onwaarskynlik dat ondergrondse abiotiese gasse tot so ’n egalige ruimtelike verspreiding kan lei.
Die onderlinge stryd van plantegroei om water en voedingstowwe was dus die waarskynlike rede hiervoor. Getzin en sy kollegas van Israel het ’n rekenaarmodel gebruik om ondergrondse mededinging om voedingstowwe na te boots en die plantegroei-patrone wat as gevolg hiervan op die rekenaarskerm geflits het, was soortgelyk aan die beelde wat in Namibië opgeneem is.
Die ooreenkomste tussen die gesimuleerde en régte feësirkels was merkwaardig – baie na aan identies, meen Getzin – en is ’n onomstootlike bewys dat die misteriese stroke die gevolg is van die natuurlike manier waarop grasse hulself orden. “Dis huidiglik die oortuigendste verduideliking,” aldus Getzin.
Byskrif: 'n Sirkel sonder enige plantegroei van naby gesien. Foto: STEPHAN GETZIN