Die satansbosuitroeiery het nou vir my ’n raaisel geword. Hier sit ons met ’n onkruid (Solanum elaeagnifolium) wat ’n erger vraagstuk as litjieskaktus kan word, maar ons besluit om die bestrydingsveldtog — wat, as ek reg onthou, nou drie jaar aan die gang is — te staak.
Wat sal gebeur as ons dieselfde met litjieskaktus doen? Die katjie sal dankie sê, want nou kan hy weer ongestoord groei om verlore veld terug te wen. Litjieskaktus word as ’n nasionale plaag beskou.
Dit kan weiveld in sy doringvuis toevou en verwurg. Daarom gooi ons nou reeds 14 jaar lank daarteen wal met pers konkas spuitstof en spanne bespuiters. Ons het al 81 miljoen liter spuitstof gebruik en die veldtog kos ons tot dusver meer as R11 miljoen.