
Van der Westhuizen van die Sirkel W Boerdery by Nigel het op TLU SA se jongboerkongres gepraat oor die voor- en nadele van tussenryverbouing waar twee of meer gewasse gelyktydig op dieselfde grondoppervlak verbou word.
Hy het gesê die primêre doel is gewoonlik om die maksimum gekombineerde opbrengs te bereik deur die optimale benutting van die beskikbare hulpbronne. “ ’n Mens moet egter daarop let dat baie van hierdie individuele gewasse wat nou saam geplant word nie, noodwendig dieselfde maksimum opbrengs sal behaal as wanneer dit in ’n monokultuur verbou word nie, maar die somtotaal is gewoonlik baie beter.”
Hy het gesê ander moontlike voordele is verhoogde grondvrugbaarheid weens die wisselwerking van gewasse deur byvoorbeeld stikstofbinding, verlaagde gronderosie, minder verdamping vanaf die grondoppervlak, beter waterindringing en minder onkruiddruk vanweë die mededinging. “Dit is ook ’n goeie manier om ’n inkomste vanaf ’n sekondêre gewas te verseker in die tyd wanneer die primêre gewas hom vestig, soos in vrugteboorde.”
Tussenverbouing is egter nie altyd geskik vir gemeganiseerde boerderye nie. Dit kan tydrowend wees en kan verhoogde arbeidskoste meebring. “Daarom is deeglike beplanning ten opsigte van kultivarseleksie, behoorlike spasiëring, onkruidbekamping en tydsberekeing van die grootste belang. Waar meer as een gewas saam geplant word, kan hulle met mekaar meeding om lig, vog en voedingstowwwe óf hulle kan ’n gunstige uitwerking op mekaar hê soos wanneer ’n peulgewas stikstof bind vir ’n primêre grasgewas.”
Van der Westhuizen het gesê argeoloë kon bewyse vind dat daar duisend jaar ná Christus se geboorte al tussenverbouing in Noord-Amerika plaasgevind het met plaaslike boorlinge wat mielies, bootjies en pampoene saam verbou het. “Dit was bekend as die drie susters, met die mielieplant die oudste suster wat toelaat dat die boontjie teen haar oprank en stikstof verskaf. Die pampoen is die jongste sussie wat op die grond rondkruip en ’n lewende deklaag vorm wat grondvog bewaar en onkruid onderdruk.”
Die algemeenste tipes tussenryverbouing is waar twee of meer gewasse in ’n mengsel sonder gedefineerde rye gesaai word, waar twee of meer gewasse in afsonderlike rye geplant word, waar ’n tweede gewas ingeplant word nadat die eerste een goed gevestig is en waar gewasse in afsonderlike stroke geplant word wat wyd genoeg vir bewerking is.
“Daar is nie een plan wat vir alle plase sal werk nie. Elke boer moet kyk na sy eie omstandighede en die gewasse wat hy verbou, en besluit hoe hy hierdie praktyke tot sy voordeel kan aanwend.”