As jy met net ’n boorgat en ’n skuur jou boerdery moet begin, is daar twee dingewat jou deurtrek: harde werk en familiewaardes. Toe mnr. Attie Nel in 1993 ná sy weermagopleiding en studie aan die Landboukollege Neudamm begin boer het, was daar geen ontwikkeling op die plaas nie.
Buiten die boorgat en die skuur wat in ’n huis verander is, moes hy alles met die hand op die been bring. Sy pa, Attie sr., ’n onderwyser wat ook op die familieplaas by Outjo geboer het, se standpunt was altyd dat ’n mens net ’n ontwikkelde plaas moet koop, maar hy het van sy eie reël afgewyk toe hy Algier by Tsumeb aangeskaf het “omdat die prys van R100 000 reg was”.
Dit was min geld as jy in ag neem dat Nel sy eerste Brahman-bul vir R12 000 gekoop het. Nel vertel sy pa het die landjie van 60 ha (alles vir eie gebruik) op die Outjo-plaas geploeg met ’n drieskaarploegie en ’n Vaaljapie-trekker, daardie klein, vaal Ferguson-trekkertjie wat die landbou in die 1940’s wêreldwyd ’n hupstoot gegee het.