Boegoe, 'n fynbosplant, is een van Suid-Afrika se inheemse, aromatiese plante wat deesdae al hoe meer belangstelling wek.
Dit kom hoofsaaklik in die Suidwes-Kaap voor, hoewel dit ook aangetref word van die Wes-Kaap tot in KwaZulu-Natal. Die struik met wit, pienk of pers blommetjies kom op hoogliggende gebiede, duineveld en laag-lande voor.
Daar is verskeie
spesies, maar net Agathosma betulina (rondeblaar-boegoe) en A.
crenulata
(ovaalblaar-boegoe) word kommersieel verbou.
Boegoe word op klein skaal as 'n tuinplant gebruik en is 'n tradisionele medisyne vir rumatiek, maagaandoenings en blaas- en nierkwale. Die bekende boegoebrandewyn word ook gebruik vir maagaandoenings. Die natuurlike olie word deur 'n gesofistikeerde distillasieproses uitgehaal en gebruik as voedselgeurmiddel of bestanddeel in skoonheidsprodukte en parfuum.
Boegoe in die veld kan net goes word met 'n permit van die Kaapse Natuurbewaring omdat dit 'n beskermde plantsoort is. Die kommersiële verbouing van boegoe speel dus 'n belangrike rol in die oorlewing van hierdie natuurlike hulpbron.
Die bedryf word egter deur enkele probleme aan bande gelê. Die belangrikste hiervan is die probleme met die vermeerdering van plantmateriaal. Boegoesaad ontkiem moeilik en steggies vorm nie maklik wortels nie. Voorts is diefstal van plantmateriaal 'n groot kopseer.
'n Ander probleem het egter in 2001 in die omgewing van Piketberg die kop uitgesteek. Plante van enige ouderdom het kol-kol verwelk. Tesame met die verwelking het die blare begin vergeel en binne 'n maand of twee het sulke plante gevrek. As die kroon van 'n aangetaste plant oopgebreek word, kon 'n duidelike bruin verkleuring in die vaatweefsel gesien word.
Die LNR se eenheid vir Groente- en Sierplantnavorsing op
Elsenburg, buite Stellenbosch, saam met die Universiteit van Stellenbosh en die
LNR se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming op Vredenburg (Stellenbosch), het
plantmonsters uit verskeie gebiede ontleed en die swam Fusarium
oxysporum is uit die plantmonsters se wortel- en kroondele geïsoleer. Nog
'n beheerde-omgewingproef is uitgevoer met boegoesaailinge van drie maande oud
waartydens dieselfde swam gebruik is om die plante mee te besmet. Diesaailinge
het dieselfde simptome getoon as die plante in die kommersiële aanplantings en
F. oxysporum is ook hier uit die wortels en krone geïsoleer. F.
oxysporum
is sonder twyfel uitgewys as die sondaar.
Fusarium oxysporum
is 'n grondgedraagde swam wat in die meeste gebiede voorkom. Dit floreer in warm, vogtige toestande en is 'n groot probleem in die somerreëngebied of waar in die somer besproei word. Die swam versprei deur die grond, afloopwater en besmette plantmateriaal.
Die swam dring die plant deur die wortels of kroongebied binne en blokkeer die vaatweefsel in die kroon en stam. Die plant kan dus geen water en minerale van die wortels na die bogrondse dele vervoer nie. Die blokkasie is dus die oorsaak van die verwelking en vergeling wat waargeneem word.
Tot dusver kan die patogene organisme nie chemies
bestry word nie. Boere met Fusarium
-besmette plante word aanbeveel om dit so gou moontlik te verwyder en te verbrand. Enige toestel wat gebruik is om die plante te verwyder, moet met 'n ontsmettingsoplossing afgespoel word. Daar moet nie weer geplant word in 'n plantgat waar 'n besmette plant verwyder is nie. Enige verkeer deur die besmette gebied, hetsy per voet of voertuig, moet tot die minimum beperk word. Fusarium hou beslis 'n bedreiging in vir die boegoebedryf en moet verder ondersoek word sodat die probleem hokgeslaan kan word. Vrae wat beantwoord sal moet word, is of die swam net boegoe aanval en watter moontlike bestrydingsmaatreëls die siekte in toom kan hou.
Navorsers wil meer weet
'n Konsortium navorsers van die LNR-Nietvoorbij-Infruitec, LNR-Roodeplaat (Elsenburg) en die departement Mikrobiologie asook die Instituut vir Plantbiotegnologie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan met biotegnologie-tegnieke meer oor boegoe te wete kom. Die hoofdoel is om te help dat die nuwe landbougewas volhoubaar verbou kan word.
Die navorsing word moontlik gemaak deur 'n driejaar-toekenning van USAID, 'n Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling.
Die boegoenavorsing sal fokus op DNS-entiteitsbepaling ("DNA-fingerprinting") vir die bepaling van ekotipes en moontlike kultivar-identifikasie, die invloed van betrokke mikorisa (skimmelwortel), in vitro-vermeerdering en aspekte van vestiging vir verbouing. Wetenskaplike kennis van die gewas, asook die opleiding van nagraadse studente, is in die vooruitsig.
Die vraag na boegoeprodukte as tradisionele medisyne, ornamentele tuinplant, maar veral vir materiaal met 'n hoë vlugtige olie-inhoud, oorskry die aanbod. Die beperking is weens die probleme met die vermeerdering van plantmateriaal. Boegoe bly 'n beskermde plant en die Kaapse Natuurbewaring het met 'n inisiatief begin om boegoe-stropery in die veld te verminder.
Boegoe (genus Agathosma ) word hoofsaaklik in die Suidwes-Kaap gevind. Agathosma betulina (rondeblaar-boegoe) en A. crenulata (ovaal- of langblaar-boegoe) is deel van die 135 spesies in die genus en word vir kommersialisasie gebruik. Die organiese verbouing van die produk sorg vir hoër pryse. Meer inligting kan van me.Louisa Blomerus by tel: 021 808 5430, faks 021 808 5440 of e-pos: louisa@igs5.agric.za gekry word. 24 Januarie 2003