Invoerpariteit sal vanjaar 'n
belangrike rol speel in die vasstelling van binnelandse koringpryse.
Deurslaggewende faktore wat in dieverband dopgehou moet word, is die
rand-dollar-wisselkoers en die neiging van internasionale pryse.
Die nuwe seisoen se koringpryse is tot dusver deur groot wisselvalligheid gekenmerk. Prysbewegings skep onsekerheid, maar ook geleenthede vir almal in die koringmark. Produsente wil die hoogste moontlike prys vir hul produk kry, terwyl verbruikers so min moontlik wil betaal.
Juis hierom is die identifisering van neigings nou van deurslaggewende belang, sê mnr. Rudi van Niekerk van Grainco.
Die prysbeweging van internasionale koring en die rand-dollar-wisselkoers is sekerlik die faktore wat die grootste invloed op die invoerkoste van koring (invoerpariteit) sal hê.
Suid-Afrika gaan weer vanjaar 'n netto invoerder van koring wees.
Koring kan uit verskeie lande ingevoer word. Die tradisionele uitvoerlande, Argentinië, Kanada, Australië en Amerika, het verlede seisoen altesame 70,5 miljoen ton uitgevoer. Dielande se koring is gewoonlik harder en het 'n beter proteïeninhoud as koring wat elders geproduseer word.
Argentinië ervaar ekonomiese probleme sedert die land se geldeenheid, die peso, begin vanjaar gedevalueer is. Dieland se graanboere hou hul koring terug om hulself teen die konstante verswakking van die peso te verskans. Gevolglik het hul ouseisoen-pryse só gestyg dat Brasilië, wat tradisioneel koring uit Argentinië invoer, na koring van ander oorsprong begin kyk.
Argentynse boere het al ver gevorder met hul nuwe aanplantings in die sentrale dele van die land. Weens die swak peso het die produksiekoste gestyg, wat boere gedwing het om gewasse met laer produksiekoste, soos sojabone en sonneblomme, te plant.
Die Argentynse departement van landbou het sy skatting van die oes met 500 000 ha afgeskaal, terwyl die Amerikaanse departement van landbou sy skatting van die Argentynse oes met 1,5 miljoen ton tot 14 miljoen ton verlaag het.
In Kanada oes die boere nou. Op 23 Augustus het die Kanadese statistiekdiens in 'n oesverslag die verwagte Kanadese koringoes van 20,6 miljoen ton verlede jaar tot 15,4 miljoen ton aangepas. Dit is hoofsaaklik 'n tekort aan grondvog en buitengewoon hoë temperature wat die laagste oes in 28 jaar tot gevolg kan hê.
Gerugte van 'n El Niño-verskynsel doen al 'n geruime tyd die ronde. In 'n El Niño-jaar is dit gewoonlik droog in Australië, wat veroorsaak dat baie van die koring ná die optimale planttyd (vroeg Mei) geplant is. Verdere droogte het die opbrengspotensiaal benadeel en die Australiese kantoor vir landbou-ekonomie het onlangs die Australiese oesskatting met 6,9 miljoen ton afwaarts tot 17,1 miljoen ton aangepas.
Amerika is egter die land wat die grootste daling in koringproduksie beleef. Volgens die Amerikaanse departement van landbou se graanverslag op 12 Augustus gaan die oes die kleinste sedert 1972 wees.
Die grootste verlaging is in die kategorie vir harde rooi winterkoring gemaak. Dievoorraad is vanjaar só laag dat die prys van 4 Mei tot 4 September vanjaar met $57/t gestyg het tot $161/t - die hoogste vlak in die afgelope vyf jaar. Op die Kansas City Board of Trade, waar hierdie koring verhandel word, styg pryse nou vanweë diekleiner aanbod.
Mnr. Van Niekerk sê dit is duidelik dat die vier belangrikste uitvoerlande vanjaar 'n baie kleiner produksie gaan hê. Tekorte wat gaan ontstaan, kan egter deur nie-tradisionele uitvoerlande aangevul word.
Indië, Kasakstan en die Europese Unie (EU) gaan vanjaar meer produseer om te kan uitvoer. Volgens die jongste beramings van die Amerikaanse departement van landbou is die toename in uitvoer 1,22 miljoen ton in Kasakstan, 1,5 miljoen ton in Indië en 5 miljoen ton in die EU.
Koring uit hierdie lande is gewoonlik swakker, maar sal in aanvraag bly weens die laer pryse. In Sagis se weeklikse bulletin van 27 Augustus is die jongste uitvoerkwotasie $161/t (v.a.b.) vir harde rooi winterkoring teenoor $115/t (v.a.b.) vir Franse koring.
Weens hoë subsidies kan EU-produsente koring winsgewend teen laer pryse produseer. Hoewel die Wêreldhandelsorganisasie na gelyker mededinging streef en by die onlangse Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling in Johannesburg kommer uitgespreek is oor die groot subsidies wat boere in sommige lande ontvang, is die kanse skraal dat subsidies binne die afsienbare toekoms verminder sal word.
Mnr. Van Niekerk sê die internasionale koringpryse het al sterk gestyg in reaksie op die kleiner wêreldproduksie. Die styging in die prys van harde rooi winterkoring het ook veroorsaak dat die Suid-Afrikaanse invoertarief op koring vanaf 6 September verlaag is van R196/t tot R43,56/t. Die pryse van harde rooi winterkoring het die afgelope maand konstant gestyg, wat beteken dat die invoertarief op koring volgens die formule van die Raad op Tariewe en Handel binnekort tot R0/t kan daal.
Met die verlaagde invoertarief kan koring goedkoper as voorheen ingevoer word. Verskeie bronne in die graanhandel het al daarop gedui dat 320 000 t koring reeds vir invoer in die nuwe seisoen vasgemaak is. Dit beteken daar is nog ruimte vir invoer.
20 September
2002